Pumas bult spiere met toekennings
As medici na Jimmy Stonehouse se bloed onder 'n mikroskoop kyk sal hulle verstom staan. In plaas van wit- en rooibloedselle sal hulle rugby in sy are kry.

‘Coach’ soos hy onder die Puma spelers en afrigtingspan bekendstaan is Woensdag 12 Februarie aangewys as die Absa afrigter van die jaar. Heyneke Meyer van die Springbokke en Brendan Venter van die Sharks moes maar tevrede wees met tweede en derde plek.

Dit was ‘n duidelike aangedane Jimmy wat dié toekenning in ontvangs geneem het.
Al die jare van bloedsweet en harde werk begin uiteindelik vir hom en sy
span vrugte afwerp.
Die span het daarna nog twee keer verhoog toe gestap, eers toe Rosko Specman aangewys is as die Absa Curriebeker-eerste divisie speler van die jaar en daarna het Hein Mentz die trofee ontvang vir die Absa span van die jaar.
Jimmy se raak-vat filosofie oor rugby kom met die al die jare wat hy met afrigting betrokke is, “Terwyl ek besig was met afrigting op skoolvlak het
ek altyd gesê as jong spelers universiteit toe gaan en op ’n dag verby my
huis ry en nie inkom om te groet nie, het ek iets verkeerd gedoen.”
Dié afrigter wat meer as net ’n afrigter is vir die Puma-span het, het al diep spore in die Mpumalanga Rugby-unie se geskiedenis getrap.
Hy is in 2008 aangestel en het die leisels by Chris Buitendach en Chester Williams oorgeneem.
In sy imposante loopbaan is al baie mylpale onderstreep wat ’n Direkteurstrofee by die Hoërskool Ermelo, Beeldtrofeë by die Hoërskool Waterkloof, ’n klubkampioenskap by die Pretoria Harlequins, ’n Afrika-titel aan die stuur van die nasionale vroue-sewesspan, en Rusland se sewes- en o.19-spanne wat onder sy leiding vir Wêreldbeker-toernooie gekwalifiseer het, insluit.
Die Mpumalanga Rugby-unie se verskuiwing na Mbombela is plaaslik vanuit die staanspoor met negatiwiteit begroet. Maar die skuif het ’n nuwe lewe in die span geblaas. Met hernude ywer het hulle dit reggekry om vir vanjaar se Curriebeker-premierliga te kwalifiseer.
Almal dink 2013 was die Pumas se jaar, hulle het immers die Vodacombeker-eindstryd gehaal, die Tblisi-beker in hul eie vertoonkas gaan plaas, die Curriebeker Eerste Liga gewen en die promosiestryd met welslae afgeweer.
Toeskouers kan maar op gereedheidsgrondslag wees, die Pumas gaan vanjaar wys hoe bult hulle spiere teen die groter unies.
“Dus voorwaar ’n vooreg om ’n trofee te ontvang in die geselskap van Heyneke Meyer en Brendan Venter, maar alle eer aan die Puma-spelers wat dit vir my moontlik gemaak het,” het Coach Jimmy na die geleentheid gesê.