Local sportSport

Yvonne reik hoër en hoër

’n Grasieuse danser en talentvolle atleet - dít is die jonge Yvonne Robsons (15). Yvonne het geskiedenis gemaak toe sy onlangs sommer twee keer provinsiale kleure op een dag verwerf het.

Dié Gr.9-leerling van Hoërskool Generaal Hertzog is Saterdag 8 Maart gekies vir die Mpumalanga Atletiekspan as hoogspring-atleet en is dieselfde dag uitgenooi om Suid-Afrika in Junie in Engeland tydens die 2014 Wêreld Vrystyl Dans Kampioenskappe  te verteenwoordig.

Yvonne dans reeds vier jaar by Stiehla Dans Studio en word deur Bertus Stiehler afgerig. Om aan die wêreld kampioenskappe deel te neem sal tot dusver een van Yvonne se grootste prestasies wees waarop sy met reg trots kan wees. Sy spandeer weekliks ongeveer 12 ure by die studio en gaan soms naweke saam met een van haar dansmaats om op hulle eie te oefen.

“Yvonne het reeds baie vroeg die wens uitgespreek om dans haar toekoms te maak, as afrigter of as professionele danser,” het trotse pa, George, vertel.

“Vir ander aktiwiteite het sy min tyd beskikbaar. Sy spandeer soveel moontlik tyd aan dans en selfs haar pligte tuis word in een of ander dans of dansoefening omskep. Sou sy beskikbare tyd het, word dansneigings, nuwe bewegings en internasionale kompetisies op die internet nagevors,” het hy vertel.

Ernstig oor haar toekoms in dans, het Yvonne nooit regtig deelgeneem in ander sportaktiwiteite nie – ‘uit vrees vir beserings asook die effek wat atletiek en die ander tipes sport wat tradisioneel deur skole beoefen word op spierontwikkeling kan hê’. Eers in Gr.7 by Laerskool Kragbron het sy ontdek dat sy wel hoogspring geniet en het in Gr.8 by HGH weer oor die lat gesweef.

“Dis die eerste jaar wat sy werlik belangstelling toon en begin het om doelwitte met hoogspring te stel. Met  hulp en afrigting van mnr. Hatting begin sy meer aandag aan tegniek gee maar neig om terug te keer na hoe sy gemaklik voel,” het haar pa verder vertel.
Vanjaar beoog sy om ’n winterprogram te volg ter voorbereiding van die volgende seisoen en het die doel vir haarself gestel om ook aan die Suid-Afrikaanse Kampioenskappe deel te neem en haar beste te lewer.

Met dans wil sy nog beter presteer in plaaslike kompetisies, asook by die Wêreldkampioenskap wat voorlê.
Toekomsplanne is huidiglik ‘n debat tussen Yvonne en haar ouers. Hul advies is om te kyk na studies in ‘n rigting wat verwant, of baie naby is aan dans of sport. Dit mag beteken dat sy voltyds moet studeer en deeltyds dans, maar sy neig meer na ‘n voltyds dans en deeltyds studiereëling.

Ongeag wat sy besluit kan sy dan altyd reken op haar ouers se volle onvoorwaardelike ondersteuning.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.
Back to top button