Local sportSport

Gholf is Anna se kos

Anna Erwee is ’n gemaklike meisie met ’n groot glimlag, maar dis op die gholfbaan dat jy Anna se ander kant leer ken.

Dit is hiér waar sy met ’n gholfstok in die hand amok saai.

Dié 18-jarige leerling van Hoërskool Generaal Hertzog het onlangs aan haar eerste toernooi deelgeneem. Sy het op 15 en 16 Februarie aan die ‘US World Championships Qualifier’ te Bronkhorstspruit Gholfklub deelgeneem en het in haar ouderdomsgroep, meisies 15 tot 18 jaar, met die louere weggestap.

Toe sy as 13-jarige vir die eerste keer met haar pa se gholfstokke gespeel het, het sy nie gedink dat sy enige talent het en later ’n passie vir dié sportsoort sal ontwikkel nie.

Anna Erwee, die gholfster van HGH.
Anna Erwee, die gholfster van HGH.

Anna speel al vyf jaar en gaan vir lesse, maar met haar ondervinding by die uitdunne sê sy dat daar nog baie om te leer is. “Daar was sewe-jarige meisies wat beter as ek was,” lag sy.

Anna sê een van die redes vir haar liefde vir die sport is dat dit nie spanwerk vereis nie. Sy speel hokkie ook in skool en hou baie daarvan, maar in gholf het ’n persoon net jouself om te blameer vir foute, en dit is ’n “stryd met jouself”. “Ek verstaan as mense kwaad raak in sport, dit wys dat hulle omgee,” het Anna gesê.

Verlede jaar het sy die geleentheid gehad om by Sun City op die Gary Player baan te kan speel as deel van ’n skool gholftoer.
Anna is lid van die Bankenveld Gholfklub en haar korttermyn doel is om goed te doen in die klubkampioenskappe.

Ek wil dankie sê vir my kêrel wat my gehelp het deur die toernooi. Ek sou nie dit sonder hom kon doen nie. Hy was my ‘caddy’,” het Anna dan trots vertel. Sy wil ook haar afrigters bedank en haar familie.

Vir meisies en vroue wat geïntimideer voel om gholf op te vat, het Anna net een ding te sê: “Moenie terugstaan nie, ons kan baie mans ore aansit.”

Daar is nie baie geleenthede waar sy saam met ander vrouens kan speel nie, maar sy is bewys dat niks ’n persoon moet terughou om te speel nie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Witbank News in Google News and Top Stories.

Back to top button