Chris-Mari is ’n ‘girl’ wat weet hoe
Chris-Mari het vertel dat sy in Graad 3 vir haar afrigter, mnr. Frank Glaeser gevra het of sy vir die span kan speel en hy het ingestem
Die sportiewe Chris-Mari Bezuidenhout (11) van Laerskool Klipfontein skrik nie vir ’n uitdaging op die sportveld nie.
“Sy is een van daardie ‘versatile’ kinders. Sy blink uit op die sportveld en in akademie. Maar sy kan gate in die seuns krieketspan slaan,” het mnr. Pieter Zeelie vertel. Hy het bygevoeg dat Chris-Mari vir die seuns krieketspan speel, hoewel daar ’n dogters krieketspan ook by die skool is. “Die ‘girl’ slaan sesse teen die seuns en sy sit my somtyds ore aan,” het mnr. Pieter bygevoeg.
Chris-Mari het vertel dat sy in Graad 3 vir haar afrigter, mnr. Frank Glaeser gevra het of sy vir die span kan speel en hy het ingestem.
“Ek doen atletiek, hokkie, netbal en krieket en het met sport grootgeword.”
Sy het op Dinsdag 13 Augustus saam haar span (o.11’s) teen CR Swart uitgedraf en hoewel hulle die wedstryd verloor het, het Chris-Mari vyf paaltjies gevat en slegs 19 lopies afgestaan.
Sy was ook saam op die Witrivier Krieketweek waar die spelers saam die bekende Jonty Rhodes gespeel het.
Dit was vanaf 30 Junie tot 3 Julie en tussen al die skole het Chris-Mari op een van die dae die speler van die week toekenning gekry.
“Sy is ook deur na die finale ronde van die Titans proewe en sy is ook opgeneem in die o.13 Mpumalanga krieketspan,” het mnr. Glaeser gesê.
Haar afrigter het afgesluit: “Sy boul die seuns uit. Sy is baie goed en glo sy sal baie ver gaan. Die skool is baie trots op haar.”
