Rugbymanne en hope biltong op een aand
Wat gaan nou lekkerder saam as rugby en biltong. Voeg nou net ’n bietjie Springbok daarby en jy het die heerlikste kombinasie.

Manne van die Woord, ’n interkerklike gebeds- en ondersteuningsgroep vir die manne is hard besig met die finale reëlings vir die

Bok-en-Biltong-aand ten bate van drie kinderhuise in eMalahleni.
Die Bok-en-Biltong-aand vind op 26 Februarie by die groot tent reg agter The Ridge Casino plaas.
Onder die genooide gaste is die legendariese Vleis Visagie, Ollie le Roux, Jaco van der Westhuizen en ook Arno Botha, Pierre Spies het gesê hy gaan probeer om ook te kom saam kuier as hy beskikbaar is.Al hierdie manne ondersteun die 85 Manne van die Woord-takke regoor die land.
Vleis word tot vandag nog gereken as die swaarste Springbok ooit. Hy het die skaal op 138kg laat bewe.
Ollie het in 1994 vir die eerste keer vir die Springbokke uitgedraf en het in totaal on 54 toetse in die Groen en Goud gespeel. Hy is die jongste stut wat nóg vir die Springbokke gespeel het en hy is ook die Springbok wat die meeste wedstryde as reserwe begin het, naamlik 43.
Saam met die twee manne gaan Arno en Jaco kom vertel van hul reaksie toe hul gekies is as Springbok en die eerste keer toe hulle die trui oor die kop getrek het.
Dawie Spies, bekende motiveringspreker en oom van Pierre Spies is hoof van Manne van die Woord en gaan ook seremoniemeester optree.
Die aand begin om 18:30 vir 19:00. Dit kos slegs R1 500 vir ’n tafel waaraan 10 mense kan sit. Gaste kan ook dan lekker smul aan heerlike biltong en koeldrank wat by die prys ingesluit is.
Skakel vir Herman Cronje: 082 547 6689 of 013 687 6552 of Piet Cromhout: 082 756 5865, organiseerders van die funksie om jou tafel te bespreek. Daar is net nog 10 van die 60 tafels beskikbaar