Springbokke se kuier was lekker man, lekker
Die Springbok en biltong-aand was ’n reuse groen-en-goud sukses.
Daar was Woensdag 26 Februarie lekker saam met drie groot name in die Suid-Afrikaanse rugby geskiedenis gekuier, hope biltong verslind en lekker saamgelag.
Springbokke Vleis Visagie, Ian Macdonald en Jaco van der Westhuizen het van hul ervarings op die rugbyveld kom deel.
Ongeveer 630 gaste het geluister hoe die Bokke vertel van hul reaksie toe hul gekies is as Springbok en die eerste keer die trui oor die kop getrek het, asook ander interessanthede, soos wie is die hardste geslaan, wat gebeur in die kleedkamers en staaltjies waaroor daar nooit gepraat word nie.
Aan die einde van die aand het die Bokke hul getuienisse gedeel.
Terwyl Vleis sy getuienis gedeel het, het die tent skielik stil geword. Hy het vertel hoe hy sy dogter Marlé in 2004 per ongeluk doodgeskiet het toe hy haar vir ’n motordief aangesien het. Die reëndruppels kon hard op die tent gehoor word, so asof die engele saam met die groot man huil oor die tragedie in sy lewe.
Jaco het vertel hoe hy amper nie ’n rugby loopbaan gehad het nie as gevolg van ’n kniebesering en die pad wat hy moes stap. “Ek kon dit nie sonder die Here gedoen het nie,” het hy gesê.
Ian Macdonald het die manne weereens laat besef hoe ’n groot geskenk hulle in die vorm van hul kinders van God af ontvang het.
“Maak jou kinders groot as ‘warriors for God’,” het hy die manne uitgedaag.
Dié aand is deur die plaaslike Manne van die Woord, ’n interkerklike gebeds- en ondersteuningsgroep gereël.
“Hou die spasie dop, ons gaan meer sulke aande reël,” het mnr. Herman Cronje van Manne van die Woord gesê.
Hy het almal bedank vir hul bydrae om die aand ’n sukses te maak en het veral vir mnr. Piet en me. Trix Cromhout bedank vir die ekstra myl wat hulle gestap het om die tent so mooi te versier.
Die organisasie het R21 000 ingesamel wat gedeel gaan word tussen die Christelike Maatskaplike Raad, Kabod Huis en Ethembeni Children’s Haven.



