Vier jou kuikens se lewe
Verlede Saterdag het ons, ons Vellie-kind Nantes de Lange gaan groet.

Verlede naweek was nie een wat ek weer gou wil beleef nie.
In een dag was daar soveel hartseer, tog soveel vreugde inmekaar gevleg.
Verlede Saterdag het ons, ons Vellie-kind Nantes de Lange gaan groet. Terwyl ek so na sy foto gesit en staar het, was dit asof hy deur die raam net vir my geglimlag en soos oudergewoonte geknipoog het.
’n Ouerhart se rou snikke het my uit my oomblik saam met Nantes geruk. Die jong man se ma het met haar hande inmekaar gestrengel gesit terwyl die walle van emosies en hartseer breek.
Skielik was my gedagtes by my eie kuikens. My hartkloppe, my rede hoekom ek glimlag, myne ……
Agter in die kerk het my twee kuikens gesit. Hulle was vir Nantes net so lief. Hy het saam met hulle grootgeword, knieë stukkend geval, met huiswerk kom help, hy het ‘fridge-rights’ gehad in ons pandokkie.
Nantes is op my meisiemens se verjaarsdag begrawe. Haar groot 30 was vir haar ’n emosionele ‘roller coaster’.
Later die aand het ek uiteindelik tyd gehad om haar geluk te wens. Daar was ’n demper op daardie gelukwens, want ek het skielik besef ek het drie lewens om te vier.
Nantes, ek vier jou lewe want jy het sonder om eers te probeer soveel mense aangeraak. Ek weet van die kos wat jy elke maand gekoop het vir die wat dit nie kan bekostig nie. Ek weet van die seuntjie by die kinderhuis wat jy gereeld Spur toe gevat het.
Miela, ek vier jou lewe want jy het ’n manier om mense holderstebolder te oorval met jou goedheid. Ek vier jou lewe want jy is ’n omgee-gebedsmens, my entoesiasties, vreeslose soldaatjie.
Mykya, my energieke, loop oor van idees kind, my vangnet wat my die nodige woema gee om enige uitdaging aan te pak. Ek vier jou lewe want jy is my pret-kind wie se borrelende lag vanaf die mure bons en elke stukkie van my hart beset.
Vir elke moederhart wil ek sê, vier jou kind se lewe ….. Ons is bevoorreg om dit te kan doen.
