Diewe steel naaldwerkmasjiene van stoep in Ga-Nala
Twee naaldwerkmasjiene, wat ’n leeftyd van herinneringe vir Marien van der Westhuizen saamdra, is binne ’n week gesteel.
Binne die bestek van een week is twee naaimasjiene en ’n klok van ’n huis se stoep in Sonneblomstraat in Ga-Nala gesteel.
Dit is veral ontstellend vir Marien van der Westhuizen en haar gesin, wat al 49 jaar in die huis woon en in dié tyd slegs een keer voorheen ’n inbraak op hul perseel beleef het.
Die twee naaimasjiene het groot sentimentele waarde vir Van der Westhuizen.
Sy het haar stoepie oor die jare in ’n gesellige kuierplek omskep, met die masjiene as ornamente tussen die ander dekorstukke.
Gesteelde naaldwerkmasjiene
Die Singer-naaimasjien is op 15 September kort ná 15:00 gesteel.
“Ons was gou vir ’n heen-en-weertjie dorp toe en met ons terugkoms het ons agtergekom dié masjien en ’n ou klok is spoorloos,” het sy vertel.
Op 21 September, helder oordag, het ’n onwelkome gas weer hul erf betree en dié keer die Elna-naaldwerkmasjien gevat.
“Ons buurman oorkant die straat het vir die man wat met die masjien uitgestap het, gevra wat hy daar soek. Hy het beweer hy kom haal net die goed wat hy daar gelos het.”
Die buurman het die gesin onmiddellik gebel en van die voorval in kennis gestel.
“Ons het so vinnig as moontlik van die dorp af teruggejaag, maar die verkeer het ons opgehou. Ons het selfs in die omgewing rondgery en na die man gesoek, maar hy was skoonveld,” het Van der Westhuizen gesê.
Sentimentele waarde
Volgens Van der Westhuizen het die dekor al sowat 10 jaar lank op hul stoep gestaan.
Die Elna-naaimasjien is egter vir haar besonder kosbaar, aangesien dit in 1977 ’n geskenk van haar man was.
“Iemand anders kan egter niks met die Elna doen nie – die motortjie het reeds lankal uitgebrand.”
Die Van der Westhuizens het intussen al hul dekor van die stoep af weggepak.
“Ons kan nie meer eers ons plekkies mooimaak nie. Dit voel of enige persoon net kan instap en vat soos hulle wil.”
Jou stad, jou storie soos dit gebeur. Bly op hoogte met die jongste nuus met WITBANK NUUS,
Volg ons op website, Facebook, X, Instagram or TikTok
Epos: info@witbanknews.co.za
