Local newsNews

Geliefde onderwyser tree ná 50 jaar af

Elsa Nortje tree af na 50 jaar in die onderwys.

Mens kan met gemak sê dat Laerskool Generaal Alberts Primary in Elsa Nortje (73) se hartklop vasgevang is.

Nie alleen het sy haar laerskoolloopbaan daar voltooi nie, maar sy was ook ’n onderwyseres by dié skool vir ’n klompie jare voor haar aftrede.

Die beginjare

Elsa het in 1953 as ’n Graad Een leerder by Laerskool Generaal Alberts Primary ingestap toe stigter Johan Schutte nog hoof was.

Sy het later as student teruggekeer en haar proeftyd daar gedoen. Na afloop van haar proeftyd is sy in 1968 permanent by haar alma mater as ’n grondslagfase onderwyseres aangestel.

Sy is in 1970 met Fanie Nortje getroud en hulle het drie kinders, twee dogters en ’n seun. Elsa was daarna vir ’n ruk uit die onderwys om ’n huismamma te wees en haar kinders groot te maak.

Toe die tyd vir haar reg was het sy weer begin skool gee, dié keer by Alberton Primary School.

“Ek was vir 30 jaar betrokke by Alberton Primary. Daar was ek ’n departementshoof en het ook klas gegee vir Graad Een tot Drie leerders.”

Elsa het ook afloswerk in 2009 by Laerskool President Steyn gedoen.

In 2010 is sy ’n Graad Een beheerliggaamspos by Laerskool Generaal Alberts Primary aangebied.

“Ek het vir twee jaar lank vir die Graad Eens skool gehou voordat ek ’n remediërende onderwyspos by dié skool aanvaar het,” het Elsa gesê.

Volgens haar het sy elke oomblik geniet en was dit vir haar baie lekker om vir kinders vir wie leer ’n uitdaging was, te help.

“Ek het ’n wonderlike pad saam met die skool se personeel en leerders gestap,” het sy gesê.

Interessante inligting

Iets wat min mense weet is dat Elsa ook Leon Steenkamp, hoof van Laerskool Generaal Alberts Primary, wie ook nou onlangs afgetree het, se Standerd Een (Graad Drie) onderwyseres was.

“Leon was ’n stil seun en dit is eers jare later wat hy besef het dat ek Jufforu Joubert is wie vir hom in Graad Drie skoolgehou het,” het Elsa vertel.

“Al drie my kinders was ook in die Laerskool Generaal Alberts Primary. Een van hulle het hoofmeisieskap gekry in1983. Sy was Heleen Nortje (nou Heleen Opperman). Twee van my kleinseuns was ook in die skool en een het hoofseunskap gekry in 2013.”

Droom werk

Van kleins af wou Elsa net skoolgehou het en was dit haar droom om ’n onderwyseres te word.

“Al wat ek wou doen is skoolhou, of dit nou vir my poppe was en of dit nou vir my ma se plante of struike was. Ek moet sê, Juffrou Scholtz wie my Graad Een onderwyseres was, het ook ’n groot rol gespeel. Ek het so baie na haar opgekyk en by haar geleer,” het Elsa verduidelik.

Vir haar was elke oomblik van haar loopbaan van 50 jaar as ’n onderwyseres ’n fees, want sy het haar droom uitgeleef.

Van die uitdagings vir haar was die groot klasse met 40-plus leerders in.

“Dit het dit soms moeilik gemaak om daai individuele aandag aan elkeen te gee.”

Stokperdjies en familie

Elsa spog met ses kleinkinders en sy vertel dat hulle haar lewe is. Altwee haar dogters het in hulle ma se voetspore gestap en is ook in die onderwys.

Elsa geniet dit om naald- en breiwerk in haar vrye tyd doen en sy spandeer ook graag tyd saam met familie en vriende.

“Ek hou ook van skryf en is nou juis besig met my outobiografie. Ek doen dit vir myself omdat ek dit geniet. Ek beplan nie om dit te laat publiseer nie.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Alberton Record in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button