NewsSchools

Die Ranties hou straatmakietie vir die voornemende Graad R’e en Eens

Laerskool Randhart het op 'n innoverende wyse hul spoggerige skool aan die voornemende Graad R’e en Graad Een’s van 2022 asook hulle ouers ten toon gestel met 'n straatmark op April 17.

Kleurvolle, aanloklike stalletjies het die veelsydigheid van die skool uitbasuin en ‘n duidelike boodskap oorgedra.
Laerskool Randhart glo in totaliteitsopvoeding en om leerders op alle terreine voor te berei.

Besoekers kon meer oor die skool te wete kom by stalletjies wat sport, kultuur, Graad Een-akademie, skooldrag, informasietegnologie en robotika, asook ander unieke dienste ten toon gestel het.

Alida van Dyk en Allison Bellingan.

Die kinders het tussendeur die sanitering entoesiasties aan ‘n verskeidenheid individuele aktiwiteite deelgeneem, van doele skiet en by ‘n “selfie”-raam pronk tot om ‘n stert aan ‘n donkie met “gemaskerde toe oë” te druk.

Allerlei lekkernye, belonings en legkaarte is rojaal uitgedeel aan blinkoog kleuters wat met oorgawe te kenne gegee het: “Ek wil ‘n Rantie wees!”

Henru Prinsloo en Ebert Barkhuizen.

Die Ramkat, Laerskool Randhart se gelukbringer, het ook sy gesig kom wys en die kinders hartlik verwelkom. Daar was selfs pappas wat dit nie kon weerstaan om saam met Ramkat te poseer vir ‘n foto nie.

Groot en klein, oud en jonk, personeel en besoekers het elke oomblik geniet en die smaaklike gratis worsbroodjies, wat deur die Ondersteunersklub aan die einde van die genotvolle besoek verskaf is, was die perfekte wyse om die besoek af te sluit.

Chantel Whelan, Christelle Pienaar en Elize Weinrich van Laerskool Randhart.

Mevrou Gerber, skoolhoof van Laerskool Randhart, het met trots aangekondig dat Graad R vanaf 2022 deel van Laerskool Randhart gaan wees en sodoende gaan die Rantie-familie nog verder uitbrei.

Dit was voorwaar ‘n genotvolle makietie met die reuk van boereworsrolle in die lug, opgewonde kinders en vrolike musiek. Laerskool Randhart sien met afwagting uit om elke nuwe kleuter en ouer in 2022 by die Rantie-familie te verwelkom.

Stalletjies van die dag.

Laerskool Randhart wil graag elke inwoner van Samuelstraat bedank dat hulle ons die geleentheid gegun het om makietie te hou.

Elmarie Schultz, Melanie Steenkamp, Ruzanne Kloppers en Esta Barnard van Laerskool Randhart.
Ranties Ramkat, Ruwan de Bruin en Eldin Darel.
Keenan van Straaten en Nicholas de Abreu.
Johan van Vuuren en Marli Barkhuizen.
Michelle en Mila Butler.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Alberton Record in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button