Local newsNews

Beertjies gebrei vir kindertjies in nood

Inwoners is bevoorreg om deel van die liefdeswerk te wees.

By die Gereformeerde Kerk Brackenhof is daar ‘n groep vroue wat bere vir kinders in nood brei.
Hulle het al meer as 3 500 bere gebrei en uitgedeel.
In 1997 is daar ‘n versoek aan die Gereformeerde Kerk Pretoria-Oos se bejaardes gerig om 60 bere vir kinders in nood te brei.
‘n Breipatroon wat op 4 Augustus in 1993 in die Sarie-tydskrif verskyn het, is gebruik en vinnig was 225 in plaas van 60 bere voltooi.
Nie net was die entoesiasme onder die berjaardes groot nie, maar die nood onder kinders was en is nog groter.
Hierdie projek het in 2009 uitgekring na die Gereformeerde Kerk Worcester, waar die bere veral op Mandeladae (18 Julie) uitgedeel was.
Al die blinde lidmate het net so entoesieties meegewerk aan hierdie uitreikprojek.

Liefdeswerk
In 2016 raak die bejaardes van die Gereformeerde Kerk Brackenhof betrokke en in die meer as 20 jaar wat hierdie liefdeswerk aan die gaan is, is daar nog nooit so baie bere deur so ‘n klein groep bejaardes gebrei nie.
“Ons is maar 11 vroue wat brei,” het Joukje Geertsema gesê.
“Ons breiers woon nie net in die Alberton omgewing nie, maar ook in Northcliff, Nelspruit en Bethlehem.”
Een van die groep se vroue, Bettie Aucamp, het al meer as 1 000 bere gebrei.
Vir die vroue is dit ‘n voorreg om deel van die projek te wees.
Dit is vir hulle wonderlik om te sien hoe die Heilige Gees breiers op hulle pad stuur en ook hulle wys waar daar bere nodig is.
“Dit het vir my deur ‘n donker tyd in my lewe gehelp. Ek weet nie wat ek sonder die projek sou gedoen het nie,” het Bettie vertel.

Bere gemaak met liefde
Hierdie bere word gratis tesame met die Blye Evangelieboodskap uitgedeel aan kinders in nood.
“Sedert die uitbreek van Covid-19 word daar selfs versoeke van ouetehuise ontvang waar die bere nie net deur die dames met vreugde begroet word nie, maar selfs die mans wil ‘n bere hê, want hulle het meestal as kind een gehad terwyl meisies met poppe gespeel het,” het Joukje gesê.
Soms word bere aan instansies of individue uitgedeel wat dit op hulle beurt weer aanwend vir hul uitreik-askies soos byvoorbeeld Helpende Hand Alberton-tak, Brackenhurst Primary School en Academic Success.
“Mense vra dikwels hoe lank neem dit om ’n bere te maak. As ‘n mens dit in man-ure sou omsit, sou dit baie goedkoper gewees het om net ‘n beer te gaan koop en te skenk.
“Dis die maklikste manier. Maar nou word daar met elke steek wat in liefde gebrei of vasgewerk word, met deernis aan die ontvanger van daardie spesifieke beer gedink. Daar word deurentyd voorbidding gedoen vir die ontvangers van die bere,” het sy gesê.
Dit bly vir die bejaardes ‘n vreugde en ‘n voorreg om by hierdie liefdesuittreik betrokke te mag wees. Sedert 2016 is ongeveer 3 700 bere al gratis in Suid-Afrika, Zambië en Australië uitgedeel.
Indien mense graag dubbeldraad wol of stopsel wil skenk kan Carla Blauw gekontak word by kantoor@gkbrackenhof.org.za

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Alberton Record in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button