EntertainmentLifestyleLocal newsNews

Oud-Albertonner stel eerste Afrikaanse lied bekend

Sanger Emile Welman, voormalige lid van Overtone, het na Alberton, die dorp waar hy groot geword het, terug gekeer om sy eerste Afrikaanse enkelsnit, Sprokiesland, vry te stel.

Die 35-jarige wat in Newpoint Beach in die VSA woon, het roem bereik deur die insluiting van sy destydse groep, Overtone, se musiek in die rolprent Invictus. Met reeds ’n lys Engelse enkelsnitte agter sy naam het hy onlangs Sprokiesland vrygestel, met die musiekvideo wat vroeg in Julie verwag word.

“Sprokiesland is deur my pa geïnspireer,” het Emile vertel. “My pa is in 2019 met lewerkanker gediagnoseer.”
Toe die diagnose gemaak is het Emile reeds 10 jaar lank in die VSA gewoon en kon slegs een of twee keer per jaar kom kuier.

“My pa was mal oor Afrikaanse musiek en ek wou iets skryf waarvan hy sou hou en wat hy sou waardeer. Iets waarna hy kon luister en op trots kon wees.

“Ek het dus die liedjie geskryf in die hoop om dit so gou as moontlik op die radio te kry. Ongelukkig het my pa se toestand drasties verswak en hy is in Februarie 2020, terwyl ek op toer was in Australië, oorlede. Hy het nooit die liedjie gehoor nie, maar ek is vasberade om hom steeds trots te maak.”

Die tuiskoms

Emile Welman se eerste Afrikaanse enkelsnit is deur sy pa geïnspireer. Foto: Verskaf

Vir Emile was dit lekker om terug te keer na Alberton, waar sy suster steeds woon, vir ’n ruk met die vrystel van Sprokiesland.

“Dit het baie verander van toe ek klein was,” het Emile gesê.

Emile se een beswaar wat hy gehad het tydens sy verblyf in Alberton was die konstante kragonderbrekings wat die area ervaar.

“Ek onthou toe ek vertrek het, het die kragonderbrekings net begin,” het hy gesê. “Ek kan nie glo dit gaan steeds aan nie.”

Emile was ’n leerder by Laerskool Randhart en Hoërskool Marais Viljoen High waar hy rugby as sy eerste passie toegepas het. Hy was ook lid van die Cantare Kinderkoor en die Colla Voce Jeugkoor.

“Ek mis baie boerewors, Spur en Wimpy. Daar is nie iets soos dit in Amerika nie.”

Emile keur terug na sy gesin in die VSA op 2 Julie.

Buiten sy musiekloopbaan stel Emile belang in gholf en het ’n voorliefde vir wyn. Hulle besoek gereeld die Nappa Vallei vir wynproe.

“’n Bottel wyn op die gholfbaan is my ideale dag,” het Emile laggend gesê.

Hy en sy vrou het ook onlangs ’n boot gekoop waarop hulle gereeld die eilande naby hul woonplek besoek.

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Alberton Record in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button