Marthie van Niekerk tree na 38 jaar af
Met ’n swaar, maar opgewonde hart verlaat Marthie van Niekerk (62) Laerskool President Steyn na 38 jaar.
Die skool het vir haar ’n afskeidspartytjie gehou en haar as ’n lojale en goeie onderwyser beskryf.
Haar laaste dag by die skool was op 30 Junie.
Haar passie uitgeleef
Marthie het van kleins af geweet dat sy eendag ’n onderwyser wil word. Dit alles te danke aan haar Graad Een onderwyser.
“Sy het ’n groot bydrae tot my liefde vir onderwys gemaak. Sy het altyd so mooi met ons gewerk en jy kon haar liefde vir jou voel,” het Marthie gesê.
Op die ouderdom van 22 het Marthie as ’n Graad Een onderwyser begin nadat sy haar studies by Goudstad Onderwys Kollege voltooi het.
In 1983 het sy by Laerskool President Steyn aangesluit en vir 12 jaar lank hier vir die Graad Eens skoolgehou.
“Ek het die laaste twee jaar vir die Graad Twees skoolgehou,” het sy gesê.
Marthie het vertel dat sy baie betrokke by die skool se sport was, veral by die atletiek.
“Dit was vir my baie lekker om atletiek af te rig en byeenkomste by te woon,” het sy gesê.
Sy het ook die afrigting van die juniorkoor, revues en kunswedstryd gedoen.
“En natuurlik het ek ook netbal afgerig.”
Uitdagings vir haar was om na die behoeftes van elke kind om te sien.
“Dit is soms moeilik om seker te maak elke kind kry daai individuele aandag,” het sy gesê.
Die lekkerste deel van haar loopbaan was die gevoel van bevrediging wat sy ervaar het.
“Die kinders het diep rye spore in my hart geloop. Ek gaan die personeellede, kinders en ouers baie mis. Ek gaan die lag mis, daar was nie ’n dag wat sonder gelaggery verby gegaan het nie. Ek gaan die lief en leed mis.”
Persoonlike lewe
Marthie is gebore in Johannesburg en sy het in Westdene in Melville groot geword. Marthie het by Hoërskool Vorentoe gematrikuleer. Sy het na skool dadelik met haar studies begin nadat sy ’n beurs ontvang het.
In 1981 het sy met haar man, Johan, getrou en het twee seuns en twee kleinkinders.
In Marthie se vrye tyd hou sy daarvan om boek te lees en tuin te maak.
“Ek is ook baie lief daarvoor om in die bosveld te kamp.”
Wat die toekoms inhou
“Ons gaan die hele Suid-Afrika rondrits en veral die Kaap verken. Baie foto’s neem en baie nuwe herinneringe opbou,” het sy gesê.
Marthie wil dankie sê aan die Hemelse Vader vir die krag en moed oor die 38 jaar.
“Dankie ook aan meneer Pieter le Roux (huidige hoof van Laerskool President Steyn) vir sy ongelooflike leierskap en ondersteuning. Dankie aan my Steyntjie-familie. Ek gaan julle almal baie mis.”
’n Boodskap wat Marthie graag wil agterlaat vir die skool is: “Hou jou oë gevestig op Jesus.”



