Rakkers nou deel van Randhart
Na meer as 25 jaar se deel van dieselfde terrein, smelt die Randhart Rakkers kleuterskool saam met Laerskool Randhart.
“Ons is baie opgewonde daaroor,” het Laerskool Randhart se hoof, Marlene Gerber, vertel.
“Dit is asof ons al jare lank in ’n verhouding is. Nou het ons besluit om die knoop deur te haak.”
Volgens Gerber is dit al ’n geruime tyd die departement se plan om Graad R met die formele kurrikulum te integreer en dus was dit Randhart se beheerliggaam se visie om die skole onder een sambreel saam te bring.
“Die groot voordeel vir leerders is dat hulle verseker sal wees van ’n plek in Laerskool Randhart wanneer hulle vorder na Graad Een,” het Gerber verduidelik.
“Die leerders is ook meer vertroud met die omgewing aangesien meeste van hulle maaitjies saam met hulle na Laerskool Randhart toe oorgaan en dit gee aanleiding tot baie natuurlike en gemaklike ontwikkeling van die leerder en oorgang na Graad Een.”
Dit hou ook voordele vir ouers in aangesien hulle dan reeds deel van die Rantie-familie en manier van doen is.
Die samesmelting hou baie hoop vir Laerskool Randhart se toekoms.
“Ons is vol vertroue dat daar ’n definitiewe groei in leerdertal sal wees,” het Gerber gesê.
“Die Rakkers is ’n voorskool vir Laerskool Randhart en gevolglik sal die integrasie van die LOLT (Language of Learning and Teaching) van die skool as Afrikaans behoue bly.
“Met ’n algemene tekort aan onderrigfasiliteite moet ons verseker dat ons Laerskool Randhart tot maksimum kapasiteit en optimale funksionering behou en voortbou op die bakermat van onderrig wat dit alreeds vir soveel jare vir soveel leerders was.”



