Hannie vier haar 90ste verjaarsdag
Hannie Maree was bederf op haar 90ste verjaarsdag deur haar kinders, kleinkinders en agterkleinkinders.
Hannie Maree, oud-Albertonner, het op 20 September haar 90ste verjaarsdag gevier.
Weens die pandemie kon familie-lede nie vir haar ’n groot partytjie hou nie, maar elkeen van haar kinders het haar vir ’n dag weggeneem en bederf.
Hannie die plaasmeisie
Sy is in 1931 in Standerton in Mpumalanga gebore en het daar op ’n plaas saam met haar ouers en drie broers gewoon.
“Ek is en was ’n plaasmeisie. Ek het baie van die plaaslewe gehou, veral wanneer ek kon wegbreek na die oopte en net die stilte en natuur rondom my kon beleef,” het sy vertel.
Sy is die tweede jongste van die vier kinders en het by Hoërskool Standerton gematrikuleer.
Na skool het sy haar ma, Helena, vir vier jaar versorg en ook seker gemaak alles verloop reg op die plaas.
“My ma het in een van die Wêreldoorloë geleef en was in ’n konsentrasiekamp waar sy rumatiekkoors opgedoen het. Daai tyd was dit maar moeilik om te behandel of om mediese hulp te kry, omdat sy in ’n konsentrasiekamp was. Te danke aan my wonderlike ouma, Johanna, het sy haar kinders deurgetrek en gesond gekry.”
Volgens inligting op Wikipedia is rumatiekkoors ’n inflammatoriese siekte wat die hart, gewrigte, vel en brein aantas. Rumatiekkoors tree gewoonlik in nadat ’n keelinfeksie wat deur streptococcus pyogenes veroorsaak is, verwaarloos word. Dit gebeur net met sowat drie persent van mense wat strepkeel opdoen.
“Weens dit het my ma op ’n latere ouderdom siek geraak en afhanklik van ons geraak.”
Hannie het toe sy 22 jaar oud was ’n stadsjapie, Johan, by ’n troue ontmoet en dit was liefde met die eerste oogopslag.
Hulle het na drie maande op 2 Januarie 1954 getrou en Hannie het toe haar tasse gepak en Johannesburg toe verhuis.
Saam ’n lewe gebou en bymekaar gestaan
Johan en Hannie het vir vele jare in Roseacre in die suide van Johannesburg gebly en dit is waar hulle ’n gesin begin het.
Die egpaar het drie kinders, ses kleinkinders en sewe agterkleinkinders.
In 1999 is Johan aan emfiseem oorlede.
“Dit was ’n baie moeilike en hartseer tyd, maar ons as familie het mekaar daardeur gedra. Ek het ’n ongelooflike man gehad,” het Hannie vertel.
Sy het toe vir nog sowat vyf jaar alleen in Roseacre gebly voordat sy na Alberton verhuis het.
Vir die laaste 20 jaar woon sy in Raceview saam met haar dogter, Alta.
Dit en dat

Hannie is nog baie gesond en het nie baie kwale nie.
“Ek moet vir jou sê, ek voel nie 90 jaar oud nie. Ek voel nog so goed en voel of ek nog so baie kan doen. Nooit in my lewe het ek gedink dat ek die ouderdom gaan haal nie, maar dit is alles deur die genade van Here,” het Hannie gesê.
Sy is baie lief vir naaldwerk en is besig om ’n komberse vir haar agterkleinkind te hekel.
Sy lees ook graag boeke oor die natuur en al die wonderlike plekke in die wêreld.
“Mens kan sê ek toer deur die wêreld deur middel van al my boeke wat ek lees.”
Vir Hannie is dit ook terapeuties om in die tuin te werk.
Sy luister ook graag klassieke musiek en veral die ‘golden oldies’.
“Een van my kleinkinders het selfs vir my ’n CD gemaak met al my gunsteling liedjies op. Ek luister dit graag, veral wanneer ek besig is met naaldwerk.”
Haar resep vir ’n gelukkige en lang lewe is om altyd te glo en te vertrou in God.
“Hê geloof, want sonder geloof is ’n mens niks.”
Iets wat nie almal van haar weet nie is dat sy ’n baie goeie geheue het en kan self dinge onthou vandat sy twee jaar oud was.
“Ek is geseënd en dankbaar om nog te lewe. Ek deel in al die mooi oomblikke van my kinders, kleinkinders en agterkleinkinders. Wat meer wil ’n mens hê?”
Hannie lewe haar lewe volgens Psalm 23. Sy het ook vertel dat die versie al by baie familiebyeenkomste ook opgekom het.
Gelukwensing van familie
“Namens ons almal wil ons net ons ma, skoonma, ouma en oumagroot gelukwens met haar 90ste verjaarsdag.
Ons dank die Here vir haar, want sy is vir ons bitterspesiaal en ’n rolmodel. Sy is een merkwaardige vrou wat nie kan stil sit nie en sy leef vir haar familie. As jy na haar kyk sal jy die woord omgee verstaan, want sy help en gee waarokal sy kan. Niks is ooit teveel vir haar nie,” het haar dogter, Alta McMaster, gesê.



