Local newsNewsSchools

Allie netbalspeler het haar oog op die bal

Netbal borrel en bruis in Anisha se are.

Netbal vloei soos bloed deur Anisha Jordaan (18) se are en dit is ‘n passie wat sy van kindsbeen af begin ontwikkel het.

Die Allie-matrikulant en hoofdogter is onglangs as een van die Top 35 beste netbalspelers in die land aangewys.

“Dit is regtig ‘n groot eer om te weet dat ek een van die land se beste spelers is.”

Netballoopbaan

Anisha Jordaan mik vir die doelpaal.

Anisha het op die ouderdom van vyf nooientjie netbal gespeel en so het haar liefde net al sterker vir die sport geword.

Sy het saam met haar netbalspan tydens haar laerskoolloopbaan by Laerskool Orion na Kuilsrivier getoer om SA’s te gaan speel en hulle het sewende geëindig.

Op Hoërskool het sy aangehou netbal speel en het in Graad 10 weggestap met die toekenning as beste netbalspeler van die jaar.

In 2020 toe sy Graad 11 was, het die Covid-19 pandemie ook op haar lewe ‘n impak gehad.

“Ek was gekies om in die eerstespan te speel, maar weens die pandemie kon ons skaars wedstryde speel,” het sy vertel

Een van haar hoogtepunte vir daai jaar was dat sy gekies was as hoofdogter vir 2021.

Anisha Jordaan mis nie sommer ‘n doel nie.

Vanjaar was sy ook as die beste netbalspeler van die jaar aangewys en sy was ook die veelsydigste sportdogter.
Sy het ook met gevorderde leerling van die jaar se trofee weggestap.

Sy het vyf of ses rondtes proewe in Gaueteng gespeel en is toe gekies vir die Gauteng-span.

Daarna was daar ‘n geleentheid waar sy kon deelneem aan uitdunne om die Suid-Afrikaanse netbalspan te behaal, maar het sy ongeukkig by die laaste rondte uitgeval.

“Net om so ver te kom soos wat ek gekom het was klaar vir my so ‘n groot belewenis. My netbal vlam in my hart het net nog helderder begin brand,” het Anisha gesê.

Netbal is alles

In aksie op die netbalbaan.

Volgens haar is netbal die lekkerste sport want jou spanmaats word soos jou familie.

“Dit is die spangees en hoe ons almal vir mekaar daar is. Hoe ons as een eenheid saam op die netbalbaan staan en daai eenheid nie weggaan wanneer ons van die baan af stap nie.”

Die lekkerste van netbal vir haar is die adrenalien wat deur haar lyf gaan voor ‘n wedstryd. “Dit gaan oor daai paar sekondes se adrenalien voor die fluitjie blaas. En dit is natuurlik vir my baie lekker wanneer ek vir ons span doel. Daardie gevoel wanneer die bal deur die net gaan is net onbeskryflik,” het sy vertel.

Vir haar is daar niks uitdagings of iets wat sy nie van hou nie. “Netbal is my passie en elke oomblik is lekker. As probleme opduik werk ons daaraan en beweeg aan.”

Anisha speel hulpdoel en doel en vir as sy nie daai twee posisies gespeel het, nie sou sy definitief senter gespeel het.

“Ek hou van aanvallende posisies ook,” het sy gesê.

Anisha Jordaan teken punte aan deur ‘n suksesvolle doel te gooi.

Volgens haar maak sy seker dat sy tussen 300 of 400 doele na elke spanoefening doen.

“Ek daag myself uit en ek verbeter myself deur voetwerk oefenininge en balansoefeninge te doen. Om doele te oefen is ook ‘n groot moet vir my.”

Op die vraag of dit nie stresvol is om te weet dat jy die speler is wat vir jou span se punte moet aanteken nie, het sy geantwoord en gesê dat sy oor die jare agtergekom het dat sy meer doele inskiet hoe rustiger sy voel.

“Daai erge angsgevoel het oor die jare verdwyn.”

Haar rolmodel is Lenise Potgieter wie die doel van die Protea Netbalspan is.

“Sy mis nie een doel nie en is ‘n regte go-getter,” het sy gesê.

Anisha Jordaan gereed om ‘n doel te skiet nadat sy die bal van een van haar spanmaats gevang het

Anisha is baie dankbaar vir haar afrigters van Hoërskool Alberton, Lourene Bester en Jann-Mari Fourie vir al hulle ondersteuning.

“Ek wil graag ook my afrigter, Louisa Jordaan, van Laerskool Orion bedank vir haar ondersteuning van laerskool tot nou. Dankie vir alles wat juffrou my geleer en dan dat ek in juffrou se passie vir netbal kon deel.”

Toekomsplanne

Anisha Jordaan besig om te veg vir die bal.

Na skool beplan sy om onderwys deur Unisa te studeer.

“Ek beplan om te werk en te leer. Dit is een van my grootste drome om ‘n netbalkliniek oop te maak in die Alberton omgewing waar ek ander spelers kan leer, inspireer en my talent met hulle deel.”

Een van haar gunsteling oomblikke van haar matriekjaar was haar matriekafskeid. Sy het saam met haar kêrele JJ Keyser gegaan en haar rok was spesiaal deur die bekende ontwerper Gerrit Pienaar gemaak.

“Dit was een opwindende aand en dit was ‘n fees.”

Dit en dat

Die pragtige Anisha Jordaan.

Anisha is op 9 Mei in 2003 in die Netcare Clinton Hospitaal as die tweede dogter in die Jordaanfamilie gebore. Anisha se sussie is sewe jaar ouer as sy.

In haar vrye tyd spandeer sy graag tyd saam met haar sussie se seuntjie en sy hou ook van inkleur.

Iets wat min mense van haar weet is dat sy eintlik hoogtevrees het.

Sy spandeer graag tyd saam met haar vriende en familie en sê nooit nee vir ‘n kamptrippie nie.

Anisha het nie regtig ‘n spesifieke lewensmotto nie, maar sy het ‘n pak kaarte by die huis met Bybelverse en ‘quotes’ wat sy soggens skommel voor sy een trek.

“Watookal op die kaartjie staan is my inspirasie vir die dag.”

Bedankings

Anisha Jordaan teken punte aan deur ‘n suksesvolle doel te gooi.

“Baie dankie aan God wat my met die talent geseën het. Dankie ook aan my ouers vir al hulle hulp en bystand oor die jare. Dankie aan al my afrigters en dankie ook aan die personeel van Hoërskool Alberton vir al die lewenslesse en dat julle in my geglo het.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Alberton Record in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button