Ouma Lettie vier 100ste
Om te kan lewe vir 100 jaar is 'n mylpaal waardig vir 'n enorme viering en dit is presies wat die familie van Aletta Maria Adriana Wilken (néé Upton) beter bekend as ouma Lettie gedoen het.
Lettie het haar 100ste verjaarsdag saam met vriende en familie by die Queenshaven Aftree-oord gevier.
Daar was groot feesgevier en lekker gesels met vele staaltjies uit Lettie se verlede wat opgediep was.
100 jaar se herinneringe
Ouma Lettie is in 1922 in die Dordrecht omgewing op ‘n plaas gebore waar sy ook die meeste van haar grootword jare deurgebring het.
Sy het vyf broers en vyf susters gehad waarvan ‘n seuntjie doodgebore is en ‘n dogtertjie wat op 15 maande oorlede is. Ouma Lettie was die oudste. Sy het haar skoolloopbaan in Dordrecht en Zastron voltooi.
Haar droom was om ‘n verpleegster te word maar dit het nooit gebeur nie. Sy het begin werk as ‘n huishoudster en het later in die Moedersbond Hospitaal in Pretoria gewerk, waar sy haar eerste man by ‘n kerkfunksie ontmoet het.
Sy is in 1943 met Mighal Michael van Rooyen getroud en het twee seuns, Ivan en Neels, gehad. Na haar egskeiding in 1952 het sy na Bloemfontein verhuis waarna Hugo Wilken in 1955 in die prentjie gekom het.
Hugo en sy het drie kinders gehad, twee seuns Hugo en Johan, en ‘n dogter, Mariana. In 1972 het sy haar man verloor nadat hy vermoedelik ‘n hartaanval gekry het.
In 2006 is Mariana na ‘n ernstige motorongeluk oorlede en in 2015 het ouma Lettie een van haar seuns uit haar vorige huwelik, Neels van Rooyen, ook aan die dood afgestaan. Sy het ook ‘n skoondogter en twee kleinkinders aan die dood afgestaan.
Haar pa, Neels, is oorlede op 93, en haar pa se broers, Oom Willem 103, Oom Antoon 97, Oom Jan 93 en Tannie Poppie 97 het almal die negentigs gemaak.
Sy het alreeds drie broers en twee susters aan die dood afgestaan.
“Ek het op my knieë gebly en my geloof het my deur dié hartseer gedra,” het ouma Lettie gesê.
Na die dood van Oupa Wilken het sy haar pensioen inkomste aangevul met die bak van beskuit en ander gebak. Sy was bekend in die Bloemfontein omgewing vir haar beskuit. Mense het van heinde en verre bestellings geplaas.
Sy het hiermee volgehou tot sy ongeveer 90 jaar oud was
Sy het vir baie jare alleen in haar huis in Wilgehof, Bloemfontein, gebly totdat sy op 95 jarige ouderdom na Alberton verhuis het om by Johan en Hester te gaan woon.
In Oktober 2021 het sy na die Queenshaven Aftree-oord geskuif.
Ouma Lettie was bekend onder die gemeenskap as hardwerkend en het sonder hulp haar kinders in moeilike omstandighede groot gemaak.
Seëninge van Bo
Ouma Lettie is vandag die trotse ouma van vyf kinders, 14 kleinkinders en 23 agterkleinkinders, om nie eens van al die aangetroudes te praat nie.
Sy het gesê dat die wenresep in die lewe is om altyd die reguit pad te loop en geld te spaar vir moeilike tye.
Haar pa was haar grootste rolmodel, want hy was altyd daar vir haar wanneer sy hom nodig gehad het.
“Vandag is voorwaar ‘n besondere seën van die Here. Ons glo dat Ouma Lettie deur ‘n opregte lewe, goeie gesondheid, genade, gebed en die Wil van ons Hemelse Vader die mylpaal van 100 jaar behaal het. Sy bly voorwaar ‘n voorbeeld vir almal van ons,” het die familie gesê.
“Ons as familie en vriende is baie bly en trots om die groot dag saam met Ouma te kon vier. Dankie aan almal wat die moeite gedoen het om haar 100e verjaarsdag by te woon.”



