Zan the man kry nuwe rolstoel van die Voortrekkers
Die Suiderlig Voortrekkers het ‘n total van 450kg koeldrankproppies in gesamel om vir Zander Teubes ‘n rolstoel te kry.
Zander Teubes of soos almal hom ken ‘Zan the Man’ is ’n 10-jarige seuntjie van Alberton wat ly aan ‘n rare spiersiekte genaamd Duchenne Spierdistrofie (DMD).
Die Suiderlig Voortrekker Kommando met die hulp van al hulle takke in Alberton het bottelproppies ingesamel om vir hom ’n rolstoel te kry. ’n Totaal van 450kg doppies is deur die Voortrekkers ingesamel.
Die rolstoel is deur lede van die Voortrekker bestuur, sowel as penkoppe en drawwertjies aan Zander oorhandig tydens ’n geleentheid wat by Laerskool Randhart gehou is.
Die Voortrekkers het tot dusver drie rolstoele aan verskeie organisasies in Alberton geskenk en is weer besig met die volgende een.
Zander is ’n voormalige leerder van Laerskool Randhart maar weens sy siekte is hy geskuif na Bravo se Kinder Verrykingsprogram, ’n program wat deur Zander se ma, Liezel Marais op die been gebring is om kinders se opvoeding te verryk deur hulle met pret te stimuleer.
Liezel het gesê: “Tydens die grendeltydperk het ek besef dat Zander vreeslik gewig verloor en het gedink dis was maar as gevolg van die ADHD medikasie. Hy het ook moeilik opgestaan en moes op sy maag rol en homself met sy arms oplig. Ek het Dr T Veldsman gekontak en gevra vir ’n goeie arbeidsterapeut waarna ek Zander dringend kon neem vir ’n derde opinie.
“Sy het my verwys na T Clark wat na die eerste evaluasie dadelik Duchenne/Beckers genoem het. Sy het ons toe na Dr Liezel Blignaut, ’n pediater verwys wat Zander vir verdere toetse gestuur het.
“Dit is op 29 Julie 2020 bevestig dat hy wel DMD het en sy spier ensieme baie hoog is. Dit het ons lewens in ’n oogwink verander – fisies, emosioneel en finansieël. Ek het toe ’n Zan the Man uitdaging begin waar ek besighede uitgedaag het om ’n minuut te plank of 10 opstote te doen vir R100 en dat hulle weer drie ander besighede uitdaag en so het die Zan the Man beweging gegroei.”

Liezel vertel verder, “As ’n mamma voel mens so hulpeloos wanneer jou kind hierdie tipe diagnose ontvang. Die grootste fout was om ook te begin Google, maar dis realiteit. Om die fondsinsameling te inisieer en dryf het vir my ’’n manier gegee om Zander se lewenskwaliteit te verbeter. Al die medikasie, twee-weeklikse fisioterapie, hidrosessies en al die toetse kos ’n allemintige bedrag en sonder die fondsinsamelings sou Zander nie die nodige sorg ontvang het om met hierdie terminale siekte saam te leef nie.
“Hierdie onkostes is ongelukkig voortdurend en daarom is organisasies soos die QuadPara Organisasie van Suid-Afrika so belangrik. Ons samel reeds twee jaar plastiese doppies en broodknippies in om die Voortrekkers en QuadPara by te staan om ’n rolstoel te kan skenk. Verlede jaar kon ons Zander se rolstoel vir ’n ander behoeftige kind aanbied. Hierdie jaar was ons dankbaar om die skenking te aanvaar,” het Liezel vertel.
Vir meer inligting oor Zan the Man en hoe om te help, besoek hulle back-a-buddy bladsy of besoek hulle Facebook bladsy.



