Local newsNews

Ligstad vier 10de bestaansjaar

Ligstad bedien en bemagtig die gemeenskap van Alberton al vir 10 jaar.

Ligstad se Speelgroepie en Naskool vier op 3 September hul 10de bestaansjaar en hulle beplan groot feesvieringe.

Van die feesvieringe sluit in ‘n Ligstad 10 Jaar Musiekfees wat op 11 September gehou gaan word.

Koorgroepe soos Die Harmonia-Koor, Cantare Kinderkoor, Alberton Mannekoor, Alberton Dameskoor en Die Laerskool President Steyn-koor gaan sorg vir groot vermaak.

Bekende kunstenaars soos Nipho Ndlovu, Paul Potgieter, Ilse-Louise Herholdt, Peter Rossouw en die Ligstadliggies gaan ook tydens die geleentheid optree. Dit beloof die fees van die jaar te wees.

Alberton Rekord het by Alida Jooste, maatskaplike werker van Ligstad, gaan kuier om oor die laaste 10 jaar, asook oor die toekomsplanne vir Ligstad te gesels.

Alberton se baken van hoop

Ligstad het in 2012 as ’n projek van CMR Alberton (nou Tutela Gesinsorg), NG Gemeente Alberton-Wes en ander vennote begin.

As organisasie met die unieke verskil van ander instansies in Alberton om die gemeenskap op te hef deur die gemeenskap self is dienste gevorm en daarop gefokus.

Die inisiatief het ontstaan uit die geledere van NG Kerk Alberton Wes en Tutela Gesinsorg.

Albei instansies is gevestigde entiteite in Alberton, bekend vir uitstekende dienslewering. Ligstad het op 3 September in 2012 hulle deure geopen en is aktief besig om in die gemeenskap van Alberton-Noord en die omliggende woonbuurte ’n verskil te maak.

Hulle visie is om die baken van hoop en lig te wees en dit is presies wat hulle in die gemeenskap is. Inwoners weet dat hulle by Ligstad gehelp sal word en dat die personeel en vrywilligers altyd die ekstra myl sal stap.

“Ligstad se gemeenskapsdienste is eerstens pro-aktief en sluit die volgende dienste in: bejaarde ondersteuning binne hulle onmiddellike omgewing, beradingsdienste en bemagtigingsprogramme,” het Alida vertel.

Baie van die dienste wat gelewer word steun sterk op vrywilligers wat by die Ligstadspan aansluit om ’n verskil in die gemeenskap te maak.

Hoogtepunte van die laaste 10 jaar

• Ligstad het in 2012 met 14 kinders begin en in 2013 het hulle 30 kinders gehad.

• In 2015 is die speelgroepie gestig en na slegs twee maande was daar reeds 20 kleuters en het hulle uit hulle gebou se spasie gegroei.

• Die speelgroepie het in Augustus in 2016 vier nuwe klaskamers gekry sodat meer kleuters geakkomodeer kon word. Die getalle het van 20 kleuters na 60 kleuters gegroei.

• Sestig beraders in totaal is in die laaste 10 jaar deur Ligstad opgelei.

• Deur die jare het 70 individue al aangemeld as vrywilligers en het hulle diens gelewer in die area waar elkeen graag betrokke wou wees.

• Dié wat 10 jaar terug by die bejaarde bedieningsprojek aangesluit het ondersteun tot vandag toe nog die projek. “Ons bejaarde-groepie het al so gegroei, maar ons het ook al ’n paar bejaardes aan die dood afgestaan,” het Alida gesê.

• Volgens Alida is dit vir haar ’n besonderse hoogtepunt om te kan sê dat die speelgroepie 100% geregistreerd is en dat die naskool voorwaardelik geregistreerd is.

• Vir Ligstad was dit baie belangrik om vennootskappe te bou en oor die laaste 10 jaar het hulle al so baie opgebou en saam met die vennootskappe gegroei.

• Die Covid-19 pandemie het die Ligstad-familie net so hard geslaan, maar Alida het vertel dat dit ‘n eer is om nog deel van die groep NPO’s te wees wie se deure nie heeltemal gesluit het nie.

“Voor die pandemie het ons met 65 kleuters by die speelgroepie en 61 kinders in die naskool gesit. Ons moet kop bo water gehou het het met al die gedwonge personeelverminderings en ons vrywilliger getalle het baie afgeneem.”

Alida het gesê dat hulle die pandemie oorleef het en vandag staan hulle sterk met 41 kleuters by die speelgroepie en 40 kinders by die naskoolsentrum.

• Ligstad het saam met die tye beweeg en gegroei. Soos wat die gemeenskap verander het, so het die behoeftes ook verander en Ligstad het alles gedoen om daarby te hou.

Doelwitte en toekomsplanne

Shardenaye Malgas is so bly om haar skool se tiende verjaarsdag te vier.

Ligstad het ’n relatief kort geskiedenis as nie-winsgewende organisasie, met ’n groot droom vir ’n langtermyn impak op die lewens wat aangeraak word. Volgens Alida is ‘n ekstra bussie op hulle wenslys.

“Die aanvraag vir die speelgroepie en naskool is groot, maar ons grootste uitdaging is vervoer. So die ekstra bussie sal dit vir ons moontlik maak.

“Dit sal altyd deel van ons doelwitte wees om die gemeenskap se behoeftes aan te spreek.

“Om Ligstad op almal se lippe te kry en aan te hou met dit wat ons doen,” het Alida gesê.

Daar is planne om die ouditorium meer beskikbaar te stel as ‘n konsert lokaal vir die Alberton gemeenskap. “Ons het hierdie ongelooflike mooi ouditorium met soveel talent wat vir vele funksies kan werk.”

Een van Alida se groot drome is om meer fondse te genereer sodat daar meer programme by Ligstad aangebied kan word.

“Dit is nou soos ouerleidingskursusse, kursusse ten opsigte van die hantering van getraumatiseerde kinders en tieners en beradingskursusse.”

Alida het gese dat opleiding is ’n belangrike manier om ’n groot impak te maak op die gemeenskap en om gemeenskapslede te bemagtig om die verskil te gaan wees in hul eie gemeenskap waar hulle invloed het.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Alberton Record in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button