Hester en Manie vier binnekort hulle 59ste huweliksherdenking.
Getroudes vier in Oktober hulle 59ste huweliksherdenking.
Manie Joubert (81) en sy vrou Hester (78) vier in Oktober hulle 59ste huweliksherdenking.
Hulle Het op 6 Oktober 1963 die knoop deurgehaak.
In 1964 het hulle na Alberton verhuis vanaf Koster in die Noord-Wes. Hulle het twee dogters en vier kleinseuns, op wie hulle baie trots is.
Hester sê dat hulle tyd saam die afgelope 59 jaar vol opwinding, seën en liefde was tot dusvêr.
“Ons pad saam kan toegeskryf word aan geduld, geloof en genade.Dit is slegs met genade dat ons mekaar nog het, en dat ons nog ons tyd saam kan geniet. Ons is nou in ons genade jare,” het sy gesê.
Manie vergelyk hulle tyd saam oor die jare met Eskom, “Dit is maar aan en af,” het hy gelag.
Op ‘n ernstige noot sê hy: “My gelukkigste oomblikke in die afgelope 59 jaar was toe Hester die ja-woord gesê het en die geboorte van my twee dogters. “Ek het altyd skoor gesoek met my dogters en ek het altyd ‘n manier gevind om hulle ‘n poets te bak.”
Op hulle oudag, het Manie en Hester gesê dat hulle gunsteling tyd van die dag is om tyd saam met mekaar te spandeer en om saam vrugte in te lê en te bewerk.
Manie hou homself ook gedurig besig in die tuin en hy ag homself as iemand met groen vingers. Hy het ‘n verskeindenheid bonsai boompies wat hy versorg.
Hester hou haarself besig met handewerk soos brei en hekel. Sy is tans besig met breiwerk vir die CHOC Foundation.
Hulle beskou afskaal en trek as die grootste uitdaging wat hulle moes oorkom gedurende hulle huwelik. “Dit is nie maklik om ‘n huis, alles waarvoor mens so hard gewerk het deur die loop van jou lewe, net so op te pak en te trek of af te skaal nie,” het Manie gesê.
Hulle het 51 jaar in hulle huis in Raceview gebly, hulle kinders het daar groot geword en hulle kleinkinders beskou dit as ‘n veilige tuiste vol bederf en liefde.
“Die kleinkinders het geweet as hulle by ouma en oupa gaan kuier, gaan hulle huis toe met ‘n oorvol maag, ‘n hart vol liefde en as hulle gelukkig is ‘n melktert of gebak,” sê Hester met ‘n glimlag.

As Manie en Hester raad kan gee aan jong paartjies, is dit die volgende; “Ken jou Skepper en wees deel van die kerk,” sê Manie.
Hulle glo dat paartjies hulle verhouding moet bou saam met die Here en dat dit ‘n groot rol moet speel in die huwelik.
Hester sê dat paartjies die Here moet ken in hulle daaglikse probleme, “Dra jou probleme op na die Here en lê jou bekommernisse by Sy voete.”
Laastens sê hulle dat paartjies moet kommunikeer. Dit is ‘n baie belangrike aspek vir hulle omdat hulle glo dat enige probleem opgelos kan word solank jy die vrymoedigheid het om daaroor te praat
“Dit sal dan uiteindelik verseker dat daar geen kwale is in die verhouding nie.”



