Marianne skilder met woorde in haar nuwe digbundel
Digkuns het Marianne Buys weer 'n doel in die lewe gegee.
Marianne Buys van Meyersdal het op die ouderdom van 35 toenemende gehoorverlies begin ontwikkel wat haar lewe so bietjie omkant gegooi het, maar sy het die beste van haar situasie gemaak.
Sy was vir 30 jaar ‘n boekhouer by haar pa se firma maar moes weens haar gehoorverlies haar werk opgee omdat dit nie meer vir haar maklik was nie. Sowat drie jaar terug het sy begin dig in ‘n poging om weer sin aan haar lewe te gee.
Dis drie jaar later en haar eerste eie Afrikaanse digbundel is vroeër vanjaar in April deur Malherbe Uitgewers gepubliseer.
Die Alberton Rekord het by Marianne gaan kuier om meer oor haar en haar digbundel uit te vind.
’n Inspirasie vir digkuns
“My ouers het die liefde vir skryf, dig en lees reeds van ‘n jong ouderdom by my gekweek. Ons was altyd omring met boeke,” het sy vertel.
Nadat sy vroeg afgetree het op die ouderdom van 35 weens haar toenemende gehoorvelies het sy by ‘n diggroep aangesluit.
“Ek het net gevoel dat ek ‘n doel vir my lewe nodig het. Iets waarna ek weer kan uitsien.”
Sy het toe begin kort humoristiese gedigte geskryf wat in agt verskillende gesamentlike digbundels al gepubliseer is.
Vandag is sy deel van vier diggroepe en dit is juis te danke aan al haar mede-digters se motivering, liefde en raad dat sy vandag haar eie digbundel in die hand kan hou.
“Die afgelope drie jaar was vol opwinding. Daar was kere wat dit moeilik was asof die pen se ink opgeraak het, maar na ‘n bietjie motivering het ek weer begin dig.
“Daai ding wat skrywers en digters sê dat mens in die ongiere ure van die nag wakker skrik met idees is die waarheid want dit het soveel keer met my gebeur en ek het seker gemaak om alle idees op daai oomblik op my selfoon te tik en te stoor.”
Om te skryf is vir Marianne ‘n ander gevoel van liefde wat jou soms na ‘n ander wêreld toe neem.
Marianne se digbundel

Dit is vir haar so ‘n groot voorreg en eer om haar eie digbundel vas te hou. Die titel is Voetspore van my Siel. Die voorblad van haar bundel is ‘n foto wat sy by Rietvlei Zoo Farm geneem het tydens ‘n stapsessie.
Haar digbundel gaan oor die dinge van die hart en die siel.
“Ek is lief daarvoor om oor die natuur, die lewe, my geloof en my diere te skryf. Ek wil he my gedigte moet mense laat dink maar hulle moet ook kan identifiseer met die versameling wat ek geskryf het.”
Daar is meer as 75 gedigte in haar digbundel en in meeste van hulle skuil daar ‘n boodskap.
Haar gunstelig gedig in haar digbundel is op bladsy een en sy naam is Koester die lewe.
“Ons aanvaar soveel dinge in die lewe as vanselfsprekend. Ek het nooit gedink ek gaan eendag met my gehoor sukkel nie en kyk waar is ek vandag. Die lewe is en bly onvoorspelbaar maak nie saak hoeveel planne jy maak nie. So lewe asof daar nie ‘n môre is nie en koester elke oomblik van jou lewe.”
Marianne se digbundel is beskikbaar by Bargain Books en Amazon.
Op ‘n persoonlike noot
Sy is op 7 Maart in 1964 gebore by die Unie Hospitaal en sy is die jongste van drie kinders. Marianne woon al haar hele lewe lank in Alberton.
Marianne het vir lank albei haar ouers versorg, maar weens redes moes sy hulp in kry oor haar gehoorverlies en sy bang was sy hoor nie indien haar ouers haar nodig het nie. Sy was maar altyd ‘n alleenkind en het haarself altyd vermaak met boeke en musiek.
“Dit was half my redding. Mens leer soveel van die wêreld en sy mense sowel as jouself wanneer jy lees,” het sy vertel.
Sy geniet dit om tuinwerk te doen, klavier te speel en om te stap.
“Ek bederf ook graag my hondekind.
“Wat ookal in die lewe gebeur weet net dat daar altyd ‘n ander deur is wat oopgaan moet nie laat materiële dinge jou lewe besit nie en waag kanse,” is raad wat sy met ander wil deel.



