Solidariteit Helpende Hand gashere bewusmakingsprojek
Solidariteit Helpende Hand verhoog hul voetspoor in die Alberton gemeenskap op 2 September.
Solidariteit Helpende Hand het hul Lentedag saam met NG Kerk Brackendal gevier deur ‘n stalletjie te deel met hul bazaarvieringe op die kerkperseel.
“Die idee was grootliks om ons voetspoor in die gemeenskap te vergroot en ons beeld verder uit te dra,” het Johan Olivier van Helpende Hand gesê.
“Daar is heelwat projekte in die pyplyn waaraan ons wil deelneem en waarvoor ons befondsing nodig het.”
Olivier verduidelik van die projekte sal in September van stapel gestuur word en hiervoor moet hulle fondse insamel.
“Daar is byvoorbeeld die skooltassie projek waar ons aan Graad Eentjies ‘n volledige tassie met skyfbehoeftes wil skenk, en die kosblikkie projek, waaraan kleuterskole kan deelneem wat ‘n koopbewys kry om vir 2024 aankope te doen vir ‘n daaglikse kospakkie vir behoeftige kinders,” het hy gesê.
Hulle het ook die studente studie fonds, waar leerlinge wie verder wil studeer aansoek kan doen vir ‘n rentevrye studielening wat betaalbaar sal wees aan ‘n geakrediteerde akademiese of tegniese instansie.
“Die hartseer is dat ons Alberton tak geen fondse tans in die studiefonds het nie en ons benodig dringend skenkings voor einde September 2023,” het Olivier verduidelik.
Olivier wys daarop dat alle projekte aan streng beheer en regulasies onderwerp word. Hy moedig mense aan ‘om deel te word van die oplossing’.
Vir verdere inligting kontak Johan Olivier by 083 457 8009 of Ronelle Brand (voorsitter) by 064 085 0948.




