Beertjies bring troos en vreugde
Die Beertjie Uitreikgroep se impak strek ver en wys dat selfs die kleinste handeling van goedheid 'n groot verskil kan maak.
Op 21 Januarie het ‘n gevoel van gemeenskap en liefde die Gereformeerde Kerk Brackenhof gevul toe leerders, personeel en ouers van Hoërskool Monument uit Krugersdorp ‘n besondere erediens bygewoon het.
Die hoogtepunt van hierdie ontmoeting was die oorhandiging van 180 spesiaal gebreide beertjies aan die nuwe Graad Agt koshuisleerders van 2024.
’n Onderwyser van die skool, Dawie Kruger, het Alberton toe gekom om te help met die merk van matriekvraestelle toe hy bidbeertjies by ’n familievriendin, Anna-Marie du Plooy, gesien het.
Liefdeswerk sedert 2016
Anna-Marie is betrokke by ’n Beertjie Uitreikgroep wat beertjies al sedert 2016 brei. Hierdie groepie het ook breiers in Nelspruit, Pretoria en Northriding.
In 1997 is daar ‘n versoek aan die Gereformeerde Kerk Pretoria-Oos se bejaardes gerig om 60 bere vir kinders in nood te brei.
‘n Breipatroon wat op 4 Augustus in 1993 in die Sarie-tydskrif verskyn het, is gebruik en vinnig was 225 in plaas van 60 bere voltooi.
Nie net was die entoesiasme onder die berjaardes groot nie, maar die nood onder kinders was en is nog groter.
Hierdie projek het in 2009 uitgekring na die Gereformeerde Kerk Worcester, waar die bere veral op Mandeladae (18 Julie) uitgedeel was.
Al die blinde lidmate het net so entoesiasties aan hierdie uitreikprojek gewerk.
Verwagtinge oortref
Die Beertjie Uitreikgroep het hierdie beertjies vol liefde en sorg gebrei.
Lede het nie net hul breivaardighede gedeel nie, maar het ook deurentyd gebid vir diegene wat hierdie klein geskenke ontvang.
Ds Paul Nel het ‘n roerende boodskap uit Jesaja 43 gedeel, waarin hy herinner het dat elkeen geroep is en deel is van iets groters.
Na die erediens is die beertjies simbolies oorhandig aan Vaughn Gous (hoofseun en koshuishoofseun), Botter Moerane (koshuishoofdogter) en Janneke Chapman (onderwyser en koshuispersoneellid).
’n Gemeentelid, Brandt Briel, wat self ’n oud-Monnas matrikulant is, het rugbybere aan Wikus Meyer en Jacques Botha (rugbyspelers) oorhandig. Daarna is die kersie op die koek aan Kruger oorhandig – die rugbyspan se gelukbringer, die Witbul, kompleet met gebreide horings en ’n stert.
Die Hoërskool Monument-gemeenskap het hul dankbaarheid uitgespreek vir die gawe gebare van die Beertjie Uitreikgroep. Die opwinding en vreugde oor hierdie projek het voortgeduur toe almal die indrukwekkende uitstalling van die beertjies bewonder het.
Drie jaar later
Op 29 Mei 2021 het die Alberton Record berig dat hierdie Beertjie Uitreikgroep toe reeds 3 700 bere sedert 2016 in Suid-Afrika, Zambië en Australië uitgedeel het.
Intussen is bere in 2022 selfs vir ’n Kambodja-uitreik gebrei, en staan die totaal bere wat tesame met die Blye Evangelieboodskap versprei is, op 7 209. Hiervan het Bettie Aucamp eiehandig 2 300 gebrei, en Carla Blauw wat al die ogies maak, moes al 28 836 stukkies vilt uitknip en vasplak.
En as mens met enige lid van die Beertjie Uitreikgroep praat, is almal dit eens, “die Here se genade is groot en Hy seën projek na projek wat biddend aangepak word”.
Vir meer inligting of om betrokke te raak, kan Carla Blauw gekontak word by kantoor@gkbrackenhof.org.za










