Skenk, Koop, en Maak ‘n Verskil met Ons Winkel Alberton

Ons Winkel Alberton, een van die 127 tweedehandse winkels van Solidariteit Helpende Hand, nooi inwoners uit om 'n besoek te kom aflê en skenkings te maak wat 'n verskil in die gemeenskap sal maak.

Die eienaar van die tak, Frans Burger, het sy passie vir die projek uitgespreek en sê hy wou nog altyd ‘n impak maak op ander se lewens.

Hy is al vir meer as 10 jaar ‘n lojale lid van Solidariteit Helpende Hand en het in 2019 twee takke in Alberton begin.
Die een tak wat in Alrode was het intussen toegemaak en die tak in Alberton Noord die geleentheid gegee om ‘n groter verskeidenheid items aan inwoners te bied.

Tans is die Ons Winkel Alberton-span, ‘n span van vier en dit is hulle missie om ‘n verskil te maak.

“Dit is wonderlik om te sien dat ons deurentyd bydra tot die gemeenskap regdeur die jaar, nie net op spesiale geleenthede nie,” het hy gesê.

Die winkel ontvang skenkings van tweedehandse meubels, kombuisware, linne en klere van die publiek, wat teen bekostigbare pryse verkoop word om geld vir Solidariteit Helpende Hand se welsynsprojekte in te samel.

Die sukses van die tak hang af van konstante skenkings van die gemeenskap. Inwoners word hartlik uitgenooi om hulle skenkings af te laai by die winkel op die hoek van Hendrik Potgieterstraat en Tweedelaan in Alberton Noord, weeksdae vanaf 09:00 tot 17:00 en op Saterdae vanaf 09:00 tot 14:00.

Vir diegene wat vervoerprobleme ondervind, kan Frans geskakel word om reëlings te tref vir die afhaal van items by die huis.

As jy ‘n positiewe impak op die gemeenskap wil maak, skenk ongebruikte items of enige ander goedere aan Ons Winkel Alberton, wat elke skenking met respek en waardigheid hanteer en vir ‘n goeie doel verkoop.

Vir meer inligting of om ‘n skenking te reël, skakel Frans by 072 690 2030 of stuur ‘n e-pos na fwp.burger@gmail.com.

Exit mobile version