Barnard Musiekskool bereik die einde van ‘n era
Louise en Martin Barnard sal altyd onthou word vir die diep spore wat hulle in die gemeenskap getrap het.
Die Barnard Musiekskool is jare gelede gestig met Louise Barnard aan die stuur van sake. Haar man, Martin, het na sy aftrede ook betrokke geraak.
Louise het klavier, blokfluit en klawerbord onderrig terwyl Martin op kitaarlesse gefokus het.
Saam het hulle ‘n gedugte span gevorm. Hulle studente was gereelde presteerders op kunswedstryde en het ook suksesvol musiekeksamens afgelê, veral deur Unisa.
Hulle het diep spore gelaat waarvan vele oudmusiekstudente vandag steeds kan getuig. Ongelukkig het beide se gesondheid met verloop van tyd verswak, en die musiekskool moes uiteindelik sluit.
Martin is op 7 Oktober 2025 na ‘n lang siekte oorlede.
Hy was ook ‘n sportman met ‘n groot liefde vir rugby en het destyds provinsiaal vir Oos-Transvaal gespeel, waar hy as skrumskakel uitgeblink het. Baie Albertonners sal hom onthou langs die sportvelde, waar hy sy drie seuns ondersteun het.
Die Barnard Musiekskool het wel die einde van ‘n era bereik, maar hulle invloed op musiekopvoeding bly voortleef in hul studente. Vir hulle was jy nie net ‘n musiekstudent nie – dit was vir almal een groot familie. Hulle het elkeen spesiaal laat voel.
Martin en Louise laat ‘n groot leemte, maar hulle impak is blywend.
Louise woon nou in ‘n versorgingseenheid.




