Groot feesviering wag vir 75ste bestaansjaar
Op 10 Maart 1950 het die kerkraad van die moedergemeente onder leiding van ds LW Lehmkuhl besluit om met 750 lidmate die nuwe gemeente Alberton-Oos te stig.
Daar sou egter ‘n jaar verloop voordat die nuwe gemeente selfstandig kon begin funksioneer.
Weens gebrek aan ‘n vergaderplek het die nuwe jong gemeente voortgegaan om eredienste saam met die Moedergemeente te hou.
Die eerste predikant, ds WDR van der Merwe, is op 16 Februarie 1951 ontvang en bevestig. Intensiewe organisering van die gemeente kon toe eers in alle erns begin. Die gemeente het op 29 April 1951 apart begin vergader in ‘n groot motorhuis.
Intussen is ook ‘n begin gemaak met die bou van die kerksaal en op 19 Mei 1951 kon die hoeksteen reeds gelê word. Die inwyding was op 4 Augustus 1951 en op 26 Augustus is die eerste nagmaal in die gemeente gevier.
Sedertdien is die gemeente deur nog nege leraars bedien: ds JG Griesel, ds FA Dreyer, ds JA Hough, Ds Johan Olivier, dr Gustav Claassen (tot onlangs die algemene sekretaris van die NG Kerk), dr Theo Swart, dr ST Potgieter (onlangs oorlede), dr Henk Gous en ds Corneil du Plessis (huidige leraar).
Die huidige kerkraad het besluit om die naweek van 27 tot 29 Maart vanjaar af te sonder om die afgelope 75 jaar van die bestaan van die gemeente behoorlik te vier.
Op Vrydagaand 27 Maart vanaf 18:00 gaan daar heerlik makietie gehou word in die kerksaal. Almal wat wil kom bring ‘n piekniekmandjie met eet- en drinkgoed. Rudie van Niekerk, ‘n bekende musikant in ons geweste sal die hele aand musiek verskaf en ons gaan heerlik pret saam met hom hê – karaoke, musikale speletjies, en as ons later lus het dalk ‘n bietjie sokkie ook.
Op Saterdag, 28 Maart hou hulle ‘n spitbraai op die kerkterrein vanaf 11:00. Een van die lidmate, Bester Meyer, is die gaskunstenaar by die geleentheid. Kaartjies vir die spitbraai kan by Sonja Coetzer (065 165 5566) aangekoop word. Dit is R130 per persoon en R80 vir laerskoolkinders.
Die fees bereik sy hoogtepunt op 29 Maart met die feeserediens om 09:00. Dr Henk Gous sal die prediker wees en daar sal ook groeteboodskappe deur oudleraars oorgedra word.
“Die Alberton Mannekoor en die kerk se eie gemeentekoor sal by die geleentheid in aksie wees. Tydens die erediens sal daar geleentheid wees om ‘n spesiale dankoffer vir die Here se wonderlike genade deur die jare in ‘n dankofferkis te kom plaas,” het ds du Plessis gesê.
“Ons weet daar is baie inwoners in Alberton en omgewing wat in Oosgemeente grootgeword het of op ‘n stadium lidmate was. En hulle almal word hartlik uitgenooi om te kom deel in die feesnaweek. Oudlidmate is ook welkom om ‘n dankoffer na die feeserediens te bring en in die dankofferkis te kom plaas.”
Daar word entoesiasties uitgesien na ‘n heerlike feesnaweek, veral om ou gesigte weer te sien en bande te versterk.




