Modder en Bloed amper in teaters
Die film, wat ’n groep Anglo-Boereoorlog gevangenes op St. Helena-eiland se ontberings, uithouvermoë en die dapper aanvaarding van ’n uitdaging uitbeeld, spog met een van die grootste rolverdelings nog in ’n Suid-Afrikaanse film.

DIE amptelike lokprent van Modder en Bloed (Blood and Glory), die nuwe film deur Dark Matter Studios (Leading Lady) en Collective Dream Films (Platteland en ’n Man Soos My Pa) is onlangs bekend gestel.
Die film, wat ’n groep Anglo-Boereoorlog gevangenes op St. Helena-eiland se ontberings, uithouvermoë en die dapper aanvaarding van ’n uitdaging uitbeeld, spog met een van die grootste rolverdelings nog in ’n Suid-Afrikaanse film.
Plaaslike akteurs insluitend Stian Bam, Altus Theart, Edwin van Jaarsveld, Grant Swanby, Bok van Blerk, Deon Lotz, David Louw, Albert Maritz, Michael Richard, Jacques Bessenger en Albert Pretorius is van die akteurs wat in hierdie epiese film te sien is.
Britse sterre in die rolverdeling sluit in Charlotte Salt (Beowulf/The Tudors), Patrick Connolly (Inferno/Crushed), Nick Cornwall (Blood Loyal/Retribution) en Josh Myers (The Sweeney/Anti-Social).
Willem Morkel (Bam), ’n Boerekryger en familieman se vrou en enigste kind word tydens die Anglo-Boereoorlog (1899 – 1902) deur Britse soldate vermoor, waarna hy saam met ander Boere-krygsgevangenes op St. Helena-eiland in die Atlantiese Oseaan aangehou word.
Hier word die Engelse konsentrasiekamp beheer deur Kolonel Swannell (Swanby), ’n vurige Imperialis met ’n onblusbare haat teenoor die Afrikaner.
Met die bystand van sy mede-gevangenes aanvaar Willem ’n uitdaging wat uiteindelik sal lei tot soete wraak in die belangrikste rugbywedstryd van hul lewens.
Bam gesels oor sy rol en ondervindings op stel: “Willem is ’n groot rol, ikonies in aard. So is Modder en Bloed ook epies in skaal en omvang. Min kry jy die geleentheid om so ’n rol te kan speel en om deel te wees van so ’n film. Dit was ’n groot voorreg om saam met die internasionale akteurs te werk. Salt is een van die vrygewigste en onselfsugtigste aktrises. Aanvanklik was ek baie op my senuwees om teenoor haar te speel, maar sy is so gemaklik dat een van my gunstelingtonele van die film saam met haar is. Ek sou nie Willem sonder Patrick kon skep en deurvoer nie. Hy was my vangnet.”
Modder en Bloed is geskryf deur Sean Else en hy is ook die regisseur. Die fliek is vervaardig deur Llewelynn Greeff, Henk Pretorius en Else.
Die film word op 1 April plaaslik vrygestel en word deur Ster-Kinekor Entertainment versprei.



