EntertainmentLifestyle

Verna Vels se laaste Liewe Heksie-storie deel van Innibos Digitaal

Bring die jongspan en kom ontmoet Liewe Heksie, Blommie Kabouter, Kwaaitjie Kabouter en die Tuindwergie in jou sitkamer.

Verna Vels se geliefde Liewe Heksie, wat terloops op 42 April verjaar, kruip geslag ná geslag diep in kinderharte.

Sy sukkel soms met lang woorde, maar gelukkig is Blommie die Kabouter en haar geliefde Matewis die kat altyd naby om te help.

Maar toe Casper die tuindwerg op ’n dag wakker word in Liewe Heksie se tuin is daar drama van begin tot einde. Want wie is dit agter daardie boom? Kan dit ’n stoute Gifappeltjie wees?

Die maats moet kom uitvind, want Liewe Heksie en die Tuindwergie is deel van InniBos Digitaal, en die produksie kan nou aanlyn gestroom word. Liewe Heksie en die Tuindwergie is die laaste Liewe Heksie-storie wat Verna Vels geskryf het, spesiaal vir Frans Swart, besturende direkteur van Lefra Produksies.

Frans het sy tande geslyp by die destydse SAUK as televisiekameraman. Hy het op heelwat groot produksies gewerk, maar een van sy hoogtepunte was beslis die kamerawerk op die televisiereeks Liewe Heksie.

So het hy vir Verna ontmoet, wat op daardie stadium bestuurder van kinderpogramme was.

“Sy was die wonderlikste en mees kreatiewe mens. Sy was bereid om al haar kennis as skrywer vir kinders met my te deel en vir my ook te leer om vir kinders te skryf.”

Frans voeg by dat sy maar net verstaan het hoe kinders dink en wat gryp kinders aan.

“Liewe Heksie is beslis so ’n voorbeeld – ons praat al van ’n paar generasies wat die klein heksie oorgedra het aan ’n volgende generasie. Verna het so totaal verstaan hoe om met kinders te kommunikeer deur Heksie en die ander karakters, want Heksie verstaan ook nie mooi van ‘groot woorde’ nie. En Heksie kom gewoonlik in die moeilikheid oor iets wat sy nie beplan het om haar in die moeilikheid te bring nie.”

Swart was verantwoordelik om heelwat Liewe Heksie-stories vir die verhoog te verwerk en aan te pas.

“Ons het gewoonlik ’n paar stories gekombineer om uiteindelik by die verhoogproduksie uit te kom. Onthou ook, ons uitdaging was altyd om al die karakters van Blommeland uit te beeld met net vier akteurs. Dit was somtyds ’n groot uitdaging,” sê Swart, “want Blommeland het baie karakters gehad. Natuurlik was dit op radio baie makliker om soveel karakters te skep.”

Vier baie talentvolle akteurs gee aan die Liewe Heksie-karakters lewe op die verhoog.

Anmari van Achterbergh speel die rol van Liewe Heksie, Botha Enslin die rolle van Mattewis, Kwaaitjie Kabouter, die Geelheks, Borrie die Gifappeltjie, Griet, Karel Kat en Koning Rosekrans.

Debrè Opperman is te siene as Blommie, Kerrie die Gifappeltjie en Koning Rosekrans en Phillru van Achterbergh vertolk onder andere Casper, die Tuindwergie, ’n Gifappeltjie en Klein Kwaaitjie.

Bederf die kleinspan – en jouself – deur nou vir hierdie wonderlike produksie te bespreek by www.computicket.com (tot 31 Julie).

Die skakel sal vir 72 uur nadat jy bespreek het aktief wees. Dis soos Innibos, maar digitaal!

Bring die jongspan en kom ontmoet Liewe Heksie, Blommie Kabouter, Kwaaitjie Kabouter en die Tuindwergie in jou sitkamer

Kaartjies is beskikbaar by Computicket se webwerf by www.computicket.com teen slegs R50.00 per huishouding.

Liewe Heksie en die Tuindwergie word met die trotse ondersteuning van RSG, Sounds Good, Hollywood Costumes, Van Loveren Wyne, Renegades Removals, Ambassador Execudrive en Savvy Holdings aangebied.

Die Geelheks vertolk deur Botha Enslin.
Frans Swart (regisseur) en Verna Vels (skrywer).
Liewe Heksie (Ana van Achterbergh) bak koekies.
Karring (Phillru van Achterbergh), Blommie (Debre Rossouw), Heksie (Ana van Achterbergh) en Kwaaitjie (Botha Enslin).

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Alberton Record in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button