EntertainmentLifestyle

KYK: Rinél Day is die heldin in haar eie musiekvideo

Rinél Day is die heldin in haar eie musiekvideo.

Rinél Day is geen onbekende in die musiekbedryf of vir die publiek nie.  Alhoewel sy vir so paar jaar vanaf die musiektoneel verdwyn het, het sy seker gemaak dat sy met haar nuutste enkelsnit Ek het opgestaan haar plek weer stewig kom inneem.

Hierdie liedjie pryk al vir weke lank op al wat ‘n trefferparade is. 

Rinél Day is terug 

“Daar is nie altyd ’n held in die regte lewe wat jou kom red nie. Jy hou vas aan geloof en gebed, wat jou dan help om daardie tree te vat om jouself te red.  “Die held kom gewoonlik na al die hartseer, selfondersoek en opstanding. Dan gebeur jou ‘happily ever after’,” het Rinél gesê oor die boodskap agter die musiekvideo van haar gewilde enkelsnit, Ek het opgestaan.

Hierdie feëverhaal, wat afspeel in die Middeleeuse tye, is deur die Coolerbox Brothers by Greensleeves Medievel Kingdom in Johannesburg verfilm. 

Die idee van die video was om kontras te skep tussen lig en donker deur te wys hoe die heldin uit die donker na die lig ontsnap.

Volgens Rinél, wat regdeur die video in die mooiste Hans Vosloo Du Toit-skeppings te sien is en haar vernuf met fakkels en vlamme ten toon moes stel om die perfekte skoot te kry, het die eindresultaat van die video haar stoutste verwagtinge oortref.

“George van die Coolerbox Brothers het my basiese idee gevat en ’n merkwaardige sprokiesverhaal geskep, wat vir kykers wys dat hulle soms die held in hulle eie lewens kan wees. Elke persoon verdien geluk en jy kan self die keuse maak om dit te vind en jouself te red.”

Die musiekvideo bou voort op die sukses van die enkelsnit. 

Ek het opgestaan is die eerste enkelsnitvrystelling vanaf die kunstenaar se derde ateljee-album met dieselfde naam, wat op 30 September 2020 bekendgestel sal word. 

Die snit is geïnspireer deur ’n moeilike tyd in haar eie lewe en die sterk tema vind aanklank by gehore van alle ouderdomme en die meesleurende wysie, is reeds ’n gunsteling op die dansvloer.

Meer persoonlik 

Rinél is in Vryheid gebore en het hoofsaaklik in Richardsbaai en Swartruggens grootgeword. Sy is verloof aan die liefde van haar lewe, Shaun Walker, en is al vir meer as ’n dekade lank doenig in die musiekbedryf.

Op die ouderdom van 10 het sy haar eerste sangkompetisie gewen en in 2012 haar eerste selfgetitelde Ghoema-benoemde album (Beste Pop-album deur ’n Vroulike Kunstenaar) uitgereik.

Haar tweede album, Dit Staan in Die Sterre, het ewe veel sukses bereik en is in 2014 vrygestel.  Dit het ’n Ghoema-nominasie ontvang vir Beste Kontemporêre Album deur ’n vroulike kunstenaar en bevat bekende liedjies en musiekvideo’s, soos Dit Staan in die Sterre, Ligjare Weg, Maak My Joune, en meer.

Oor die jare het dié veelsydige kunstenaar verskeie hoogtepunte bereik: in 2012 het sy 16de gekom in die internasionale World Peace Song Contest met haar liedjie Vuur Met Vuur Veg; vanaf 2014 tot 2018 het sy as beskermengel van die Jakaranda Kinderhuis opgetree en in 2015 was sy te sien in Leon Schuster se Shucks! Pay Back The Money; en laastens was sy ook deel van die groep Janeduke wat deurgedring het na die top 26 van die Afri-Visie-liedjieskryfkompetisie.

Wanneer sy nie besig is om harte te verower op die verhoog nie, is sy druk besig om liedjies te skryf en te werk aan haar blog, My Millennial Blog, waarin sy raad gee oor hoe om mooi te lyk op ’n beperkte begroting.

Rinél Day hou daarvan om haarself uit te daag en interessante dinge in haar musiekvideos te probeer. 

Met pragtige kostuums, emosionele toneelspel en indrukwekkende vuurtonele, kry sy dit nie net reg om Ek het opgestaan soos ’n betowerende Hollywood-fliek te laat lyk nie, maar ook om ’n sterk boodskap oor te dra wat kykers diep sal tref.

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Alberton Record in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button