Moorie dra sy hart op sy mou, vra keis afskeid toe
Leerders van Hoërskool Hans Moore het gejeug toe Jane, Robert se uitnodiging aanvaar het.

Met ‘n senuweeagtige glimlag stap Robert Jacobs, van Hoërskool Hans Moore, op en af in die gang.
Die skoolklok het reeds gelui en leerders van die skool het hul plekke op die aantreeblad geneem, reg om die dag met skriflesing en gebed te begin.
Sy hande bewe terwyl hy vasklou aan ‘n bossie wit rose en ‘n afskrif van dié week se Benoni City Times (3 Mei).
Met behulp van sy pa, Nicky het Robert ‘n voorblad advertensie in die City Times geplaas om die meisie wat sy hart gesteel het, Jane Turner, uit te vra na die matriekafskeid op 19 September.
https://www.facebook.com/benonicitytimes/videos/985616352459220
“Ek is mal oor Jane, sy het ‘n hart van goud en laat my gereeld lag. Sy is my eerste liefde,” het Robert gesê.
“Ek het besluit om haar op ‘n publieke platvorm te vra sodat sy weet hoe spesiaal sy is.”
Huiwerig betree hy die podium, almal se oë is op hom gerig en die meisie van sy drome staan paraat, besig om haar leiersdienste te verrig.
“Ek het net bly dink dit is nou of nooit en het begin om die uitnodigingsgedig, wat my pa my help skryf het, voor te lees,” sê hy.
Klasmaats Quen Squire en Lean Jansen van Rensburg het hul posisies ingeneem voor die leerders en tuisgemaakte plakkaarte in die lug gehou om Jane se hart verder te swaai.
“My hart het so paar keer gespring toe ek Robert by die podium sien. Ek het gedink hy was moontlik in die moeilikheid,” sê Jane, haar wange steeds rooskleurig van na die oggend se verrassing.
“Hy het stip na my gekyk en met sy sjarmante glimlag my voete onder my uitgeslaan. My hart bokspring steeds.”
Oor die groot dag wat voorlê, sê Robert dit is veiliger om die keuses van kleur en styl van hul uitrustings in Jane se hande oor te los.

“Ek kan ‘n streepsak dra op daardie dag, solank sy aan my sy is, weet ek dit gaan die beste aand van my lewe wees,” sê Robert.
Met ‘n vinnige piksoen, het Jane haar brawe metgesel sterkte toe gewens met sy vroegoggend eksamen.
“Hy is iets anders,” het sy gesê terwyl sy weer na die advertensie in die koerant kyk.
“Dié is een van die kosbaarste dae van my lewe.”
LEES OOK: New Hans Moore principal is full of gusto
LEES OOK: Kolwer slaan rekord vir ses