EntertainmentLocal newsNews

KYK: Musiek is vir Dodo Nyoka ‘n kommunikasiemiddel

Dodo droom daarvan om 'n Rodeo in Nashville by te woon.

Vir die voormalige Hoërskool Hans Moore-leerder en musikant Dodo Nyoka is country ‘n leefstyl en musiek ‘n kommunikasiemiddel.

As jy vir Dodo op straat raakloop, sien jy hom gewoonlik met sy kenmerkende stetson (cowboyhoed).

“Country gaan daaroor om stories te vertel, en ek hou daarvan,” het hy gesê.

Meeste aanhangers het die talentvolle musiekant leer ken as die naaswenner van Die Kontrak se tweede seisoen.

Tog het Dodo, gebore in die DRC, ‘n inspirerende storie oor waarom hy in die bedryf is.

“Kinders het vir my gelag omdat ek gehakkel het. Ek het in Graad Een selfs ophou praat vir ses maande,” het hy, wat weer onlangs op die Afrikaans is Groot se verhoog was, gesê.

Dis waar hy tot sang en redenaars as kommunikasiehulpmiddel gekom het.

In 2019 is hy as nasionale wenner van die ATKV-redenaarskompetisie aangekondig en begin hy motiveringsessies met skoliere regoor die land hou om geld in te samel vir renosterbewaring.

Soveel só, dat dit hom erkenning van die Britse koninklike familie opgelewer het.

Na skool kry hy ’n beurs by TUKS om siviele ingenieurswese te studeer, maar Covid-19 het toe sy koers verander en hy begin sy loopbaan in musiek najaag.

Dis toe dat Die Kontrak oor sy pad gekom het en sy lewe verander het.

“Musiek is my dagboekinskrywing. Ons is saam alleen in hierdie lewe. Almal gaan deur pyn. Musiek is ‘n manier om mense bymekaar te bring.”

Intussen het hy al diep spore getrap in die Afrikaanse musiekbedryf met suksesvolle treffers soos Country Girl van Bloem.

Hy het ook verder opslae gemaak met liedjies soos Dancin’ in the Stars.

Die talentvolle musikant het ook onlangs die liedjie Ek Verstaan vrygestel wat hy saam met die gewilde sangeres

Karlien van Jaarsveld, sy mentor op Die Kontrak, sing.

Ek Verstaan is ‘n diep, troosrykende herinnering dat, te midde van die chaos van die wêreld, daar altyd begrip is.

“Jesus verstaan,” het hy bygevoeg.

Dodo het gesê dit was wonderlik om weer saam met Karlien te werk.

“Ons het mekaar van die eerste oomblik verstaan,” het Nyoka verduidelik.

Hy kry sy inspirasie vir sy musiek uit alledaagse dinge en ervarings.

Dodo wil graag nog countrymusiek uitbring en droom daarvan om eendag ‘n rodeo in Nashville by te woon.

Interessante feite oor Dodo:
• Hy is lief vir diere

• Sy gunsteling kleur is geel

• Hy hou van sonneblomme en sonsondergange

• Hy kan Afrikaans, Engels, Xhosa, Zulu en ‘n bietjie Frans praat.

Sy raad aan aspirant-musikante: “Volg jou drome totdat jou drome jou volg.”

LEES OOK: Rudi Claase opnuut dankbaar met nuwe enkelsnit

LEES OOK: Afrikaanse akteur Lieb Bester oorlede na stryd met virus

   

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Benoni City Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button