KYK: 100 kersies vir tannie Bettie
Bettie het vir 40 jaar by Laerskool Northmead klas gegee.
“Die Here het my naam geroep en het my met 100 lewensjare geseën.”
So het Elizabeth (Bettie) Olivier gesê tydens die viering van haar 100ste verjaarsdag op 22 April.
Terwyl vriende, familie en personeel van The Old People’s Home, in Howardlaan, Bettie welkom geheet het by die vieringe, het ‘n enkele vlinder die saal ook binne gesweef.
“Kyk net hoe fraai, God het ‘n engel gestuur om te kom kuier,” het een van die inwoners gemerk.
“Wat ‘n wonderlike voorreg om dié merkwardige dag saam met een van ons geliefde inwoners te deel,” het die tehuis bestuurder, Kim Miller gesê.
“Ons wens Bettie al die beste toe op dié geseënde dag.”
Met ‘n rol van dromme, het Lydia van Niekerk ‘n string goue oue treffers gesing ter viering van Bettie se spesiale dag.
Benoni is waar die hart is
Die Olivier gesin het in 1928 na Westdene, Benoni, verhuis en die vier sibbe het hul laerskool loopbaan op die banke van die destydse Laerskool Brandwag geslyp.

As ‘n tiener het Bettie haar plek by Hoërskool Voortrekker in Boksburg, ingeneem en dit is hier wat haar liefde vir onderrig ontstaan het.
In 1943, sluit sy by die Heidelberg Normaal Kollege om haar haar onderwys studies te begin.
“Die Tweede Wêreldoorlog was reeds in volle swang en weens ‘n tekort aan onderwysers, is studente aan die kollege in vakante poste geplaas,” het Bettie se skoonsuster, Catrien Olivier gesê.
“Sy het met oorgawe haar pos by die destydse Laerskool JM Louw beklee maar is na ses maande geskuif na die tweeman skool, Laerskool Roodekop.”

Volgens Bettie is dit hier wat sy geleer het om streng maar regverdig te wees.
“Ek moes gedurende daardie tyd vier verskillende ouderdomsgroepe tergelyk laat leer. So leer jy om jou stem dik te maak.”
In 1946, vind sy weer haar paadjie terug na die Oos-Rand en aanvaar ‘n pos as Standerd Twee (Graad Vier) onderwyseres by Northmead Afrikaansmediumskool, nou bekend as Laerskool Northmead.
Vir vier dekades het Bettie haar bemoei met speltoetse en maaltafels.

“Ek was ook vir 20 jaar die kunswedstryd bestuurder. Ek is seker ek het elke voordrag stuk of gedig uit my kop uit geken,” het sy met ‘n breë glimlag gesê.
Op die ouderdom van 60, het Bettie haar bordkruit en rooi pen finaal neergelê en ‘n tuiste by die Victoriavalle, geskep.
“Bettie het haar hele lewe aan onderrig toegewy en het gedurende haar aftrede alles gedoen waarvoor sy nie vantevore nie tyd gehad het nie,” sê Catrien.
“Met twee brei masjiene het sy honderde truie gebrei. Ek is seker omtrent elke kind in die omgewing het jaarliks ‘n item wat met liefde deur haar gemaak is, gedra.”
Met die aanstap van jare het Bettie weer haar wortels in Benoni geskiet en op die ouderdom van 90, besluit om na die tehuis vir bejaardes te trek.
“Ek het elke dag vir myself tee geskink en etes voorberei maar dit het tyd geword dat ek dié daaglikse taakies aan iemand anders oorlaat. Ek geniet my eie geselskap maar dit is blymoedigend om nou my dae te geniet met kennise en bure wat vriende geword het.”
Haar lang en vreugdevolle lewe skryf Bettie toe aan die liefde van die Here.
“Hy het my nog altyd gelei om Sy wil te doen. Ek eer en dank Hom vir dié voorreg.”
LEES OOK: Former ballroom dancer celebrates her centenary
LEES OOK: Bert celebrates big birthday







