Cosmos Tehuis se Susan tree af na dekades van toegewyde diens
Met ’n loopbaan wat begin het lank voor die oord sy eerste inwoners verwelkom het, is Susan ’n pilaar van die gemeenskap.
Na byna vier dekades van onwrikbare toewyding en diep liefde vir die bejaardes van SAVF Cosmos, neem Susan Cilliers afskeid van haar rol as bestuurder – maar beslis nie van haar mense nie.
Met ’n loopbaan wat begin het lank voor die oord sy eerste inwoners verwelkom het, is Susan ’n pilaar van die gemeenskap wie se nalatenskap in elke gang en tuin van Cosmos voelbaar bly.
Wat begin het as ’n roeping, het oor die jare ’n lewensmissie geword – een waarin sy nie net ’n huis help bou het vir honderde bejaardes nie, maar ook ’n heenkome van liefde, begrip en respek. Nou, na jare van diens, laat sy haar amp neer – maar nie haar betrokkenheid nie.
Susan het in 1988 by SAVF Cosmos begin werk in die administratiewe afdeling, en is in 1992 bevorder tot assistent-direkteur.
Haar onwrikbare werksetiek, empatie en leierskap het daartoe gelei dat sy in 2005 as direkteur aangestel is – ’n pos wat vandag as bestuurder bekend staan.
“Cosmos was basies nog leeg toe ek begin het, maar die oord het vinnig gegroei. Binne ’n maand het ons reeds 225 inwoners verwelkom.”
LEES OOK: KYK: 100 kersies vir tannie Bettie
Geanker in passie vir bejaardesorg
Susan se loopbaan by Cosmos is gedryf deur ’n opregte passie vir bejaardesorg. Sy glo vas dat ware versorging nie net fisiese gesondheid behels nie, maar ook die geestelike en emosionele welstand van elke inwoner.
“Die hoogtepunte van my loopbaan was om die bejaardes te leer ken. Dis insiggewend om te sien hoekom iemand is soos hy is.”
Nog ’n bron van groot vreugde was die kollegas saam met wie sy gewerk het. “Ek het saam met baie wonderlike mense gewerk. Daar is mense wat jy nooit vergeet nie.”
Uitdagings tydens die Covid-19 pandemie
Soos in baie versorgingsoorde, het Covid-19 diep spore gelaat by Cosmos. Dit was vir Susan een van die laagtepunte van haar loopbaan.
“Ons het baie mense verloor, en ek het self Covid gehad. Alles het verander na Covid.
“Fondsinsameling het afgeneem, en mense het nie meer geld gehad om by te dra nie. Selfs die klubs wat ons ondersteun het, het hul deure gesluit.”
Hoewel sy amptelik uittree uit haar rol as bestuurder, het Susan reeds ’n huis by die oord gekoop en beplan om steeds uit te help waar haar ervaring en liefde nodig is.
Haar raad aan die volgende generasie versorgers is duidelik:
“Jy moet ’n passie hê vir bejaardes. Vir ons gaan dit oor versorging – die fisiese én geestelike gesondheid van die inwoners is belangrik.”
Met Susan se aftrede het Liza Oosthuizen, voormalige bestuurder van Ridgeview Retirement Village en Eddy House, onlangs die leisels oorgeneem.

LEES OOK: Skenking van R1 miljoen vir bejaardes word gesteel







