Vrywilligers leer om veldbrande te bestry
AfriForum lede is slaggereed vir veldbrandseisoen.
AfriForum-lede regoor Ekurhuleni het onlangs basiese brandbestryding-opleiding ontvang.
As deel van die organisasie se rampbestuurafdeling het 41 vrywilligers die opleiding deurloop in ’n poging om gemeenskappe beter vir die veldbrandseisoen toe te rus.
“Taklede is dikwels diegene wat die voortou neem wanneer dit by brandbestryding in hul omgewing kom,” sê Tarien Cooks, rampbestuurspesialis by AfriForum.
“Die opleidingsessie was daarop gemik om lede toe te rus met die nodige kennis en vaardighede om veldbrande doeltreffend en veilig te beheer, binne die raamwerk van wetgewing.”
Volgens haar help elke opgeleide lid om ’n selfstandige gemeenskap te bou wat in staat is om natuurverskynsels in bedwang te bring.
“Doelgerigte reaksie tydens die eerste tien minute van ’n veldbrand is krities. Daarom is dit juis die burgerlike vermoë wat AfriForum met sy opleiding versterk,” verduidelik sy.
“Veldbrande is een van die mees rampspoedige en vernietigende soorte brande wat gemeenskappe jaarliks tref. Dit is dus noodsaaklik dat gemeenskappe paraat en proaktief optree om hul eiendom, lewens en omgewings te beskerm. Met die regte kennis en toerusting weet taklede wat om te doen.”
Cooks het gewaarsku dat die komende veldbrandseisoen besonder uitdagend gaan wees weens die hoër as normale reënval wat tot digter plantegroei gelei het.
Vir meer inligting oor dié projek en AfriForum se werksaamhede besoek www.wordlid.co.za
LEES OOK: Plaaslike AfriForum-tak kraai koning by nasionale kongres
LEES OOK: AfriForum bult spiere om paaie op te ruim







