KYK: Graad R-leerder samel doppies in om meisies te help
Klein maar getryn Anja is vasbeslote dat elke meisie moet skool bywoon.
Met ‘n haasbekkie glimlag sit Anja Fourie (6) op ‘n troon van sanitêre doekies, heel in haar noppies dat haar jaarlange projek ander dogters gaan help.
“My mamma het my vertel dat as jy plastiek koeldrankdoppies bymekaar maak, kan ek doekies of ‘n rolstoel kry vir iemand wat dit nodig het,” sê dié Northmead Kleuterskool-leerder.
“Ek hou daarvan om mense te help en het vir mamma gesê ek wil graag meisies help.”
Denise, Anja se ma, verduidelik dat Interwaste se Give2Green-projek daarop gemik is om nie net herwinning van botteldoppies, aluminiumblikkies en wit papier aan te moedig nie, maar ook om deur die herwinningsproses die gemeenskap te ondersteun deur bioafbreekbare sanitêre doekies en rolstoele aan bejaardes en gestremde persone te voorsien.
“Benoni se gemeenskap is lojale ondersteuners van Top and Tags for Wheelchairs en ons wou nie teenstrydig met hul kolleksies wees nie,” sê die ma van drie prinsesse.
“Anja was ook vasberade dat haar poging meisies sou bevoordeel.”
Met die ondersteuning van Oakfields Pick n Pay, wat ‘n skenktrollie in hul winkel vir die jong kekkelkous beskikbaar gestel het, asook Ousus Carla van Hoërskool Brandwag se kreatiewe sosiale media-plasings, het dié rakker deur die loop van die jaar derduisende proppies ingesamel.
“Ek het ‘n ton proppies bymekaar gemaak en die mense van Interwaste het in ruil vir my meer as 300 pakkies doekies gegee, sommer verniet,” het Anja gesê met ‘n breë glimlag.
“Ons het besluit om dit aan die Abraham Kriel Kinderhuis te skenk. Die kinders daar het nie almal mammas of pappas om die goed vir hulle te koop nie en daarom kan hulle soms nie skool toe gaan nie. Dit maak my hartseer dat meisies skool mis omdat daar iets met hulle liggame gebeur. Ek hoop dit sal nie meer gebeur nie en dat hulle ook baie slim kan word.”
Denise het gesê sy is trots op haar spruit se helpende hart.
“Alhoewel sy nog nie heeltemal verstaan watter impak haar selfloosheid op die lewens van minderbevoorregte tienermeisies gaan hê nie, is ek ongelooflik trots op haar,” het sy gesê.
“Ek hoop dat die projek nie net die gemeenskap bewus sal maak van periode-armoede nie, maar ook hoe herwinning ons planeet en ander kan help.”
Oor haar opkomende Graad Een-jaar sê Anja sy is opgewonde om ‘groot skool’ toe te gaan.
“Ek gaan tyd maak tussen lees, skryf en somme doen om weer volgende jaar proppies bymekaar te maak,” het Anja gesê.
“Ek hoop dat die mense van Benoni my sal help om sommer twee ton in te samel.”
Vir meer inligting oor hoe jy Anja kan ondersteun om haar doelwit te bereik, WhatsApp Denise op 072 657 258.
Herwinning vir die gemeenskap
Interwaste se Give2Green-inisiatief stel die gemeenskap in staat om hul herwinningsprojek te ondersteun en in ruil lede van die gemeenskap te help.
Deur wit papier, aluminiumblikkies of botteldoppies by hul aanleg in Germiston in te handig, kan jy bydra om sanitêre doekies of ‘n rolstoel aan minderbevoorregtes te verskaf.
• 250 kg proppies is gelyk aan 60 pakkies doekies
• 500 k proppies is gelyk aan een rolstoel
Vir meer inligting skakel 011 323 7300 of gaan na www.interwaste.co.za
LEES OOK: Laerskool Northmead staan boeliegedrag tee
LEES OOK: Oud-Benonian nou op die kassie







