Het van Verlangekraal gaan verhoog toe
Aanhangers gaan in hierdie produksie iets nuuts sien, en die storie uit ’n vars oogpunt benader.
Het Heiberg. Die weggooikind wat Verlangekraal se naam sou verewig. Sy het dit gewaag om in opstand te kom teen ’n rigiede skoolsisteem wat geen rebelsheid of individualiteit sou duld nie.
Net meneer Doep het tussen haar en die verderflike skoolhoof meneer Erlank gestaan.
Hierdie geliefde en diep menslike verhaal wys vir die eerste keer Het Heiberg se kant van die saak.
Wie in haar lewe saak gemaak het en wat in haar gedagtes omgegaan het. Dit vertel bowenal hoe sy oorleef het.
Leon van Nierop (na die verhaal van Johann Bekker) se Het van Verlangekraal gaan verhoog toe. Die regie word waargeneem deur Frans Swart.
LEES OOK: Brandwag herdenk 100-jaar bestaan met eeufeesrevue
Van Nierop se roman Het van Verlangekraal het ook so pas by Tafelberg Uitgewers verskyn.

Hy loop ’n lang pad met Het. Hy het die verwerking vir die televisiereeks in 1985 gedoen, die radioverwerking vir RSG in 2022, die roman in 2024 en nou die verhoogteks in 2025.
Van Nierop sê dat hy baie opgewonde is dat Het van Verlangekraal verhoog toe gaan.
“Toe Frans Swart van Lefra Produksies my vra of ons Het verhoog toe kan neem, het ek vinnig ingestem, want ek het dadelik besef dat die onmiddellikheid en kompleksiteit van die verhoog, ’n totaal nuwe dimensie aan Het gaan verleen.
“’n Verhoogteks het natuurlik heelwat ander uitdagings as tekste vir televisie, radio of romans. Ek moes die karakters verminder en net op die kernkarakters konsentreer, en moes ook moeilike buitemuurse tonele visualiseer om op een verhoog te kon afspeel.
“Wat ’n lekker uitdaging! Het se storie is egter so sterk en veral nou weer opnuut relevant, veral as ’n mens kyk na bendeverwante bedrywighede en probleemkinders se dilemmas wat in skole toeneem, dat ek seker is mense gaan in hierdie produksie iets nuuts sien, en die storie uit ’n vars oogpunt benader.”
Frans Swart, regisseur van Het van Verlangekraal sê dat toe hy Leon van Nierop se roman gelees het, hy dadelik besef het dat Het verhoog toe moet gaan.
“Leon het ’n ongelooflike lekker skryfstyl, want jy wil nooit sy boeke neersit nie. Natuurlik leef hy al jare met die storie van Het en het ’n puik verhoogteks geskryf wat nuwe interessante dimensies na die karakters en toneel bring.”
Die verhoogproduksie word bekendgestel by die Oppiwater Kunstefees 2026 wat op 9 tot 14 April vanaf Kaapstad na Namibië gaan plaasvind.
LEES OOK: Moorie revue wins SA champs







