WEN KAARTJIES! Het van Verlangekraal gaan verhoog toe – Oud Waggie deel van die geselskap!
Van Nierop se roman, Het van Verlangekraal, het ook sopas by Tafelberg Uitgewers verskyn.
Het Heiberg. Die weggooikind wat Verlangekraal se naam sou verewig. Sy het dit gewaag om in opstand te kom teen ’n rigiede skoolsisteem wat geen rebelsheid of individualiteit sou duld nie. Net meneer Doep het tussen haar en die verderflike skoolhoof meneer Erlank gestaan. Hierdie geliefde en diep menslike verhaal wys vir die eerste keer Het Heiberg se kant van die saak. Wie in haar lewe saak gemaak het en wat in haar gedagtes omgegaan het. Dit vertel bowenal hoe sy oorleef het.
Leon van Nierop (na die verhaal van Johann Bekker) se Het van Verlangekraal gaan verhoog toe, en die regie word waargeneem deur Frans Swart.
Leon het self die teks vir die verhoog verwerk.
Etienne du Plessis, wat in 2003 aan die Hoërskool Brandwag gematikuleer het, speel die rol van die gewraakte skoolhoof, Meneer Jan Erlank.

Halfprysvoorskoue vind op 27 en 28 Maart om sewe-uur saans in die Ken Gampu-teater in Springs (voorheen die Springs Stadsteater) plaas, met kaartjies beskikbaar by LTickets.co.za.
Die produksie is daarna deel van die feesprogram op die Oppiwater Kunstefees vanaf 9 tot 14 April aanboord die MSC Opera, gevolg deur speelvakke by die Fairtree Atterburyteater vanaf 23 tot 27 April, die Innibos Kunstefees in Mbombela van 2 tot 5 Julie en die AfriForum Teater van 25 tot 27 September.
Het van Verlangeraal word aangebied met die trotse ondersteuning van Ambassador Execudrive, Britz Couriers & Removals, Feeste.net, Hollywood Costumes, Lift Airlines, Mobilis Auto, RSG en Van Loveren-wyne.
LEES OOK: Het van Verlangekraal gaan verhoog toe
Het van Verlangekraal is oorspronklik in 1960 gepubliseer en is deur Johann Bekker geskryf en handel oor ‘n bywoner se dogter, wat aanvanklik bitter selfbejammerende gedragsprobleme toon, maar deur die liefdevolle bearbeiding van haar klasonderwyser Doep vir haar medemens begin omgee.
Van Nierop se roman, Het van Verlangekraal, het ook sopas by Tafelberg Uitgewers verskyn.
Hy loop reeds ’n lang pad met Het: hy het die verwerking vir die televisiereeks in 1985 gedoen, die radioverwerking vir RSG in 2022, die roman in 2024 en nou die verhoogteks in 2025.
“Ek het nog altyd gevoel dat Het se tragiese, maar ook inspirerende geskiedenis nog nooit na behore ontgin is nie, en dat dit tyd is dat Het ook ‘n stem kry en in sommige hoofstukke uit haar eie perspektief oor haar probleme praat,” het hy gesê.
“Op radio kon ek dit nie doen nie, want dan het dit een lang pedantiese, stroperige vertelling geword. Op televisie het die klem op die verloop van die verhaal geval en die haglike toestande waaronder Het, pragtig gespeel deur die bekroonde Sally Campher, moes oorleef.
“Maar ‘n roman en verhoogverwerking maak dit soveel persoonliker, want die skrywer – in diê geval verwerker – betrek die gehoor direk by wat gebeur het en maak die verhaal ook hulle s’n.”
Van Nierop sê ook dat hy baie opgewonde is dat Het van Verlangekraal verhoog toe gaan.
“Toe Frans my vra of ons Het verhoog toe kan neem, het ek vinnig ingestem, want ek het dadelik besef dat die onmiddellikheid en kompleksiteit van die verhoog, ’n totaal nuwe dimensie aan Het gaan verleen.
“’n Verhoogteks het natuurlik heelwat ander uitdagings as tekste vir televisie, radio of romans. Ek moes die karakters verminder en net op die kernkarakters konsentreer, en moes ook moeilike buitemuurse tonele visualiseer om op een verhoog te kon afspeel.
“Wat ’n lekker uitdaging! Het se storie is egter so sterk en veral nou weer opnuut relevant, veral as ’n mens kyk na bendeverwante bedrywighede en probleemkinders se dilemmas wat in skole toeneem, dat ek seker is mense gaan in hierdie produksie iets nuuts sien, en die storie uit ’n vars oogpunt benader,” sê hy. “Dit gaan hulle net soveel verras om dit opnuut te ervaar as wat dit my geïnspireer het toe ek dit vir die verhoog verwerk het.”
Swart sê dat toe hy Van Nierop se roman gelees het, hy dadelik besef het dat Het verhoog toe moet gaan.
“Leon het ’n ongelooflike lekker skryfstyl, want jy wil nooit sy boeke neersit nie. Natuurlik leef hy al jare met die storie van Het en het ’n puik verhoogteks geskryf wat nuwe interessante dimensies na die karakters en toneel bring.”
Meer inligting: www.verlangekraal.co.za
KOMPETISIE! SKRYF NOU IN!
Drie lesers kan elkeen ‘n dubbelkaartjie wen na ‘n voorskou van Het van Verlangekraal by die Ken Gampu-teater (Springs Stadsteater) op 27 Maart om 19:00.
Om deel te neem aan die Benoni City Times en Lefra se kompetisie, kan jy die volgende na 37338 SMS: HET, BENONI, dan JOU NAAM EN VAN, EPOS en dan JOU STAD OF DORP.
Dieselfde inligting kan ook per epos gestuur word aan wen@lefra.com met LEFRA & BENONI CITY TIMES HET KOMPETISIE as onderwerp.
Wenners sal per epos gekontak word en die beslissing van die organiseerders is finaal.
LEES OOK: Rubriek: Gepraat van … Ek het gaan asem skep by die see








