KYK: Brenties vier 100ste bestaansjaar
Die skool is in 1926 geopen en bied al vir 73 jaar onderrig in Afrikaans.
Leerders van Laerskool Brentwoodpark het die tweede kwartaal op 8 April feestelik afgeskop ter viering van die skool se 100ste verjaarsdag.
Met die skoolgronde getooi in oranje en groen ballonne, het die leerders byeengekom om hul geliefde skool se ryk geskiedenis te vier.
Die skool, wat op 6 April 1926 geopen is, het oorspronklik bekend gestaan as Brentwood Park Government School, met F Zwarenstein aan die stuur van sake.
Die skool het oor ’n sinkplaatklas beskik waar twee onderwysers oor hul kudde gewaak het.

In 1953 is die naam verander na Laerskool Brentwoodpark en Afrikaans is as die eksklusiewe taal van onderrig aangeneem.
Johan le Roux, die huidige hoof wat die leisels aan die begin van 2025 oorgeneem het, het aan Brenties gesê dat min skoolhoofde die voorreg het om ’n skool se eeufees te kan vier.
“Dié skool het menige uitdagings oorkom en het dus gegroei tot ’n plek waar meer as 500 kinders nou leer en speel,” het hy gesê.
“Leerders van ons skool het per boot gevaar om in die Tweede Wêreldoorlog te veg. Baie van hulle het teruggekeer en hul kinders het die Brenties-uniform gedra.
“Ons leerders het toegekyk hoe die eerste mense op die maan land, nes julle nou kyk hoe ruimtevaarders die maan omseil.
“Alhoewel tye deurgaans verander, bly sekere dinge dieselfde, soos ons toewyding om kwaliteit onderrig te bied, gegrond in Christelike waardes en trotse Afrikaans.”
Met groot oë het dié jaar se hoofleiers na die vieringe gekyk en stadig tot die besef gekom dat die balkies op hul baadjies hul name in die skool se geskiedenis sement.
“Soos ons nou kyk na ou foto’s van ons skool se eerste leiers, so gaan toekomstige leerders ons foto’s sien en praat oor die leiers van 2026,” het hoofseun Christiaan Labuschagne gesê.
“My wens is dat ons skool sal aanhou groei en dat elkeen wat in dié banke sit gelukkig sal wees,” het hoofdogter Deane de Beer gesê.

ATKV restoureer gedenkbeeld
In ’n poging om die skool se mylpaalverjaarsdag te vier, het ATKV Benoni se Jan van Vuuren die nuut opgeknapte Republiekwording-gedenkbeeld, wat op 31 Mei 1961 by die skool opgerig is, tentoongestel.
“Dié is een van twee beelde wat in Benoni staan. Die ander is op die skoolgronde van Hoërskool Brandwag,” het hy gesê.
“Die beeld het vervalle geraak, so as ’n tak het ons dit onderneem om dit te restoureer en aan die skool terug te besorg ter viering van hul eeufees.
“Dit dien as ’n herinnering aan die skool sowel as ons geliefde land se vooruitgang en evolusie tot ’n demokratiese regering.

“Beelde soos dié herinner ons aan ons kultuur en moedig leerders aan om te volhard in al hul weë.
Vooruitgang is slegs moontlik as ons weet waar ons vandaan kom.”
Ter afsluiting van die feestelikhede het Le Roux die leerders en onderwyspersoneel bedank vir hul toewyding en dat hulle Brenties se kenmerkende oranje soos ’n vlam in hul harte laat brand.
Deel in die geskiedenis
Ter viering van hul 100ste bestaansjaar het Laerskool Brentwoodpark ’n tydelike museum in hul saal opgerig.
Oudleerders en personeel word genooi om terug te blik op die skool se ryk erfenis.

Kom besigtig die uitstalling weeksdae van 08:00 tot 14:00.
Die uitstalling is oop tot 18 April.
Vir meer inligting skakel 010 600 0304.
LEES OOK: Annetjie neem leisels by Voortrekkerkommando
LEES OOK: KYK: 100 kersies vir tannie Bettie








