Splinternuwe Liewe Heksie vir Emperors Palace
Lefra Produksies bring ‘n splinternuwe opvoering van Liewe Heksie in Emperors Palace se Theatre of Marcellus op die planke.
Liewe Heksie en die Tuindwergie sal vanaf 22 tot 26 Oktober om 11vm op die verhoog te sien wees.
Die skepper van Liewe Heksie, Verna Vels, is vanjaar 80 jaar jonk en, glo dit as julle wil, Liewe Heksie is vanjaar 50 jaar oud.
Lefra Produksies toer reeds die afgelope drie jaar met baie suksesvolle Liewe Heksie-produksies en, om Verna se verjaarsdag te vier, het regisseur Frans Swart vir haar oortuig om ‘n splinternuwe storie te skryf.
So is Liewe Heksie en die Tuindwergie gebore.
“Ek wou nog altyd gehad het dat Heksie ‘n tuindwergie ontmoet,” sê Verna.
“Ek wou sien wat sy met hom doen en, glo my, ek is seker sy gaan weer in die moeilikheid kom.”
Swart sê hy is baie opgewonde dat Verna die nuwe storie spesiaal vir hom geskryf het en ook aan hom toevertrou het.
“Liewe Heksie het deur die jare so ‘n groot invloed op my lewe gehad, want ek was kameraman op die Heksie-televisiereekse,” het hy vertel.
Voor pouse word Liewe Heksie en die Botterblom opgevoer.
Botterblom is die koei wat vir die hele Blommeland melk verskaf.
Maar Botterblom is kwaad.
Karring, Blommeland se melkkabouter, laat niemand by Botterblom toe nie en Botterblom raak baie eensaam.
Dan begin die poppe (of is dit nou koeie?) dans.
Ana van Achterbergh speel Liewe Heksie.
Ander spelers is Botha Enslin (Kwaaitjie Kabouter, Mattewis, Geelheks, Borrie, Griet en Karel Kat), Debré Rossouw (Blommie Kabouter, Koning Rosekrans en Kerrie) en Phillru van Achterbergh (Casper, die Tuindwergie, Karring, die melkkabouter en Borrie).
Verna vertel dat Liewe Heksie nooit die hoofkarakter in die stories was nie.
“Blommie Kabouter was eintlik die hoofkarakter, wat in 1961 vir die eerste keer op Siembamba uitgesaai is,” het sy gesê.
“Ek het toe hierdie goeie heksie geskep en voor ons ons oë kon uitvee, het Heksie die gewildste karakter geword.”
Swart, sê die nuwe storie was weer ‘n wonderlike ontdekkingstog.
“Dit was voorwaar soveel pret om weer aan Heksie te werk,” het hy gesê.
“Die lekker is dat niemand hierdie storie ken nie en dit gaan ‘n groot verrassing vir almal wees.”



