Impala Park sangeres wen gesogte toekennings
Die jong kunstenaar is opgewonde oor die toekennings wat sy gewen het.
Impala Park sangeres Luané-Anél van Staden (14), oftewel Lu-Anél, het uitgeblink by die Afri-Indie Musiek Toekennings wat onlangs te Platteland in Centurion plaasgevind het.
Lu-Anél is die wenner van elke kategorie waarvoor sy by Afri-Indie genomineer is.
Die jong kunstenaar het ’n nominasie ontvang in die volgende kategorieë vir die liedjies wat sy gesing het:
• ‘Best kids gospel single’ vir Die Lieflinge se Die Here wag reeds daar.
• ‘Best southern rock/country single’ vir The Judds se Grandpa.
• ‘Best musical single’ vir Lady Gaga se Always remember us this way.
Sy is ook genomineer vir ‘Overall best child artist’.
Lu-Anél het voorheen verduidelik dat die doel van die toekennings is om erkenning te gee aan onafhanklike kunstenaars. Talle ander kunstenaars, wat bekendes soos Rudi Claase en Nadine Blom insluit, was ook genomineer.
Die sangeres is opgewonde oor al die toekennings wat sy ingepalm het.
“Dit is ’n eer om saam met gevestigde, suksesvolle kunstenaars en nuwelinge op die nominasielys te wees. Ek wil graag dankie sê aan die Afri-Indie Musiek Toekennings en die ander kunstenaars by wie ek baie geleer het,” het die kunstenaar gesê.
Lu-Anél se ma, Anina van Staden, is trots op haar dogter se prestasie.
“Ek glo die toekennings wat sy gewen het gaan nog deure vir haar oopmaak,” het Anina vertel.
Lees Ook: Lu-Anél genomineer vir gesogte toekennings
Lees Ook: Impala Park se Lu-Anél skitter met nuwe CD



