Local newsNews

‘n Ontmoeting met SA se tophond

By die huis noem hulle hom Danny, maar in die hondeskou-wêreld staan hy bekend as Midnightdream Thril’F Victory.

Met ’n totaal van 5 234 punte wat op verskeie hondeskoue deur die jaar behaal is, is hierdie driejarige shih tzu van Boksburg, gekroon as Animaltalk se top-skouhond van 2013.

Die naaswenners was onderskeidelik ’n Afgaanse jaghond en ’n malteser.

Sedert Danny se eienaar, Riekie Erwee, hom vanaf die ouderdom van ses maande begin skou het, het hy al aan tussen 80 en 90 hondeskoue deelgeneem en het vele titels ingepalm.

Danny spog bykans met 500 sertifikate en rosette.

Buiten hierdie aankondiging deur Animaltalk, is daar nog hoogtepunte in Danny se skou-loopbaan.

Hy het die Kennel Unie van Suid-Afrika (Kusa) se nasionale hondjie van die jaar titel in 2012 gewen, en is in 2013 ook deur Kusa aangewys as Suid-Afrika se top-skouhond.

Danny het nog altyd uitgestaan bo Erwee se ander 13 honde, en dit is wat haar laat besluit het om hom te skou.

“Almal het gesê hy is ’n baie mooi hond. Sy hele houding, met alles wat hy doen, het heeltemal uitgestaan,” sê Erwee.

Danny se hare word twee keer per dag geborsel en elke vierde dag gewas en drooggeblaas.

Omdat hy ’n lang pels het, benodig dit ekstra versorging en beskerming.

“Ek gebruik Pantene sjampoe om sy hare glad en fluweel te kry.”

Sy beskryf hom as ’n baie rustige en liefdevolle hond, en dit kan jy duidelik sien aan die manier hoe hy stil lê terwyl sy sy hare doen.

Danny hou van mense en is mal oor ander honde, maar het net oë vir sy shih tzu meisie, Cindy.

“As hy iemand sien, dan wil hy teen hulle opspring. Oor die algemeen moet hulle ’n uitgaande persoonlikheid hê, want dit is deel van hul rasstandaarde.”

Tydens ’n hondeskou neem Danny deel teen tussen 12 en 25 ander honde rasse, onder andere Boston terriers, dalmatiese honde, chow-chows, en verskillende tipe bulhonde en poedels.

Kusa het ’n sekere rasstandaard waarop ’n hond geteël moet wees en die honde word dan daarvolgens beoordeel.

Die hond wat die naasste perfek aan die rasstandaard geteël is, is uiteraard die wenner.

“Shih tzu’s se oë moet byvoorbeeld groot wees en ver uitmekaar sit, terwyl hul pigmentasie moet onderbroke en donker wees. As hulle beweeg, moet hulle hul ruggie in ’n reguit lyn hou, en hulle word beoordeel volgens wat die rasstandaard sê hulle moet loop,” sê Erwee.

Riekie Erwee is die trotse eienaar van SA se top-skouhond, Danny.
Riekie Erwee is die trotse eienaar van SA se top-skouhond, Danny.

Danny gaan in Mei na die Amerikaanse Shih Tzu Nasionale Skou in St Louis gestuur word waar hy teen ander honde in Amerika en regoor die wêreld gaan deelneem.

Dit is nog nie vasgestel of Erwee saam gaan reis nie.

Terwyl Danny daar is, sal hy ook aan ander skoue deelneem om punte bymekaar te maak.

“Ek wil hom terugbring as die Amerikaanse kampioen,” sê Erwee.

Danny het bykans 500 sertifkikate en rosette, en hierdie is slegs ’n paar daarvan.
Danny het bykans 500 sertifkikate en rosette, en hierdie is slegs ’n paar daarvan.

Related Articles

Back to top button