MunicipalNewsUpdate

Impala Park kragkabels moet vervang word

Een van die toevoerkabels tussen Witkoppie substasie en substasie 70 het misluk.

Dit is volgens die metro se waarnemende woordvoerder, Themba Gadebe, in reaksie tot die onlangse klagtes van die substasie se onvermoë om elektrisiteit aan die Impala Park inwoners te voorsien.

Nadat inwoners in hierdie gebied ’n maand gelede vir sowat drie dae sonder krag was, het die elektrisiteit op 14 April om 6.30nm weereens afgegaan en is eers die volgende dag om 8.30vm herstel.

“Die tweede toevoerkabel kon nie al die lading dra nie en het gestruikel,” sê Gadebe.

Dit bevestig ’n inwoner, Jaco de Toit, se mening dat al drie toevoerkabels wat elektrisiteit aan hierdie woonbuurt voorsien, verouderd is en vervang moet word.

Volgens Gadebe was soveel lading moontlik op die tweede toevoerkabel geplaas, en herstelwerk het op die eerste toevoerkabel begin.

“Nadat die eerste kabel opgegrawe en die fout gelas is, is ’n tweede fout gevind en die proses is herhaal.”

Gadebe sê die kabel was daarna getoets en die kragvoorsiening is herstel.

Impala Park raadslid, Andrè du Plessis, moedig die inwoners van hierdie woonbuurt aan om die Geïntegreerde Ontwikkelingsplan se publieke vergadering op Woensdag, 23 April, by te woon, sodat hulle insette kan lewer en die metro vra om sekere prioriteite te lig.

“Hulle kan die metro vra om die begroting beskikbaar te maak om nuwe kabels te lê, want die kabels is van sulke aard dat dit onklaar raak.”

Dié vergadering vind in die Boksburg Stadsaal om 6nm plaas.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Boksburg Advertiser in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button