Eerste dag terug by skool verloop vlot in Boksburg
Leerders van Laerskool Concordia is op hul eerste dag terug by die skool deur "superhelde" ingewag
Vasbeslote en gewapen met maskers, handreinigers en talle maatreëls in plek om veilige afstand te verseker, het skole in Boksburg Maandag hul Graad Sewes en matrikulante op 8 Junie ontvang.
Die Advertiser het Laerskool Concordia, Laerskool Goudrand en Hoërskool Dr EG Jansen besoek, en in al die onderskeie skole het die groep leerders se eerste dag seepglad verloop.
Die leerlinge het met hul aankoms ‘n siftingsproses ondergaan en is deur die loop van die dag inligting gegee oor hoe om die maatreëls tydens die staat van inperking te hanteer.
Laerskool Concordia
Leerders van Laerskool Concordia is op hul eerste dag terug by die skool deur “superhelde” ingewag.
Volgens Charel Blignaut, die hoof van die skool, het sommige personeellede soos superhelde aangetrek om hul leerders welkom te heet.
“Ons skool se tema is superskool vir super kinders met super onderwysers. Juis daarom het hulle soos superhelde aangetrek om ons leerlinge terug te verwelkom. Ons wil sê ons helde is terug en sonder hulle beteken die skool niks,” het die hoof verduidelik.
Ongeveer 90 persent van die skool se 137 Graad Sewes het die oggend by die skool aangemeld en was gereed om aan die werk te spring.
“Meeste van die leerlinge was opgewonde, maar ander was ‘n bietjie senuweeagtig om terug te wees. Ons kon ook sien dat van die ouers ‘n traan in die oog gehad het. Dit is daai gevoel van ek los my kind en is alles reg? Van die skool se kant af het ons selfs meer gedoen as wat die staat van ons verwag.
“Ons gaan vir elke kind ‘n ekstra botteltjie reiniger gee en daar word ook maskers uitgedeel. Die hele skool is ook gister weer gereinig. In die klasse wat gebruik word, is daar ook ‘n bord tussen die leerders en daar word ‘n veilige afstand gehandhaaf.
“Die skool gaan verder leerders se skoene reinig soos hul aankom en Concordia het ontsmettingstonnel ontvang om te gebruik indien nodig. Die gemeenskap het gevra dat ons nie op die oomblik die tonnel aanskakel nie omdat hul nie weet of dit wat op jou gespuit word geskik is vir elke kind nie.”
Blignaut vertel dat hulle opgewonde is om die Corries weer te sien en hy het die beheerliggaam bedank vir dit wat hullle vir die skool doen in die onsekere tyd. Concordia het ook handreinigers aan hul buurskool, Hoërskool Dr EG Jansen geskenk.
LEES OOK:
Boksburg gereed vir heropening van skole
Laerskool Goudrand
Gert Botes, die hoof van Laerskool Goudrand, het aan die Advertiser vertel dat die skool se Graad Sewes in twee van die skool se grootste klasse ingedeel is. Maandagoggend het 52 uit die 54 leerders opgedaag vir skool.
“Ons is verbaas om te sien hoeveel leerlinge by die skool opgedaag het. Die skool se personeel het hard gewerk om voor te berei vir die terugkoms van die leerders en ons is opgewonde om hul weer te sien,” het die hoof gesê. Die veiligheid van ons leerlinge is vir Goudrand baie belangrik en daarom het ons die nodige maatreëls in plek gestel.”
Leerders word verplig om maskers te dra en ouers het dat hul kinders dit al by die huis dra sodat hul daaraan gewoond kan raak. Kinders moet daagliks ‘n siftingsproses ondergaan en ouers mag nie ry voordat die kind die toets geslaag het nie. Daar is ontsmettingstasies rondom die skool geïnstalleer en die klasse word tydens pouse weer gereinig.
“Die Graad Sewes volg nog dieselfde rooster, maar onderwysers wissel nou klasse en nie die leerders nie. Daar sal ook net een groep leerders op ‘n slag pouse op die pawiljoen gaan hou terwyl hul middagete geniet. Leerders moet ook tydens pouse ‘n veilige afstand van mekaar af wees en ek glo hul verstaan wat van hulle verwag word,” het Botes vertel.
Goudrand kan hul leerders tans goed beheer, maar die hoof is bekommerd oor die res van die leerlinge wat nog moet terugkeer.
“Wanneer ander leerders weer skool toe kom, gaan ons ‘n tekort aan personeel en klaskamers hê. Ek glo wel dat die departement voorsiening hiervoor sal maak.
Hoërskool Dr EG Jansen
Leon de Beer, die hoof van Hoërskool Dr EG Jansen, het veduidelik dat hulle leerders se eerste dag vlot verloop het en dat 178 van die skool se 193 matrikulante teruggekeer het.
“Alles het goed afgeloop en die siftingsproses het vinniger geneem as wat ons verwag het. Die leerders werk in die klasse en ek glo hul is opgewonde en ‘n bietjie senuweeagtig om terug te wees by die skool,” het die hoof gesê. Ons is aan die gang en ons gaan voluit om ‘n groot sukses van hierdie matriekjaar te maak.”
De Beer het beklemtoon dat al die nodige veiligheidsmaatreëls in plek is en dat die skool alles in hul vermoë doen om die verspreiding van die virus te bekamp. Leerlinge word verplig om deur ‘n siftingsproses te gaan en maskers te dra.
Daar is verskeie ontsmettingstasies strategies rondom die skool geïnstalleer. EG Jansen neem ook die kwessie van ‘n veilige sosiale afstand ernstig op.
“Die veiligheid van onderwysers, leerders en werkers is vir ons baie belangrik,” vertel die hoof.
Sheldon Diemieniet, een van die skool se matrikulante, vertel dat hy bly is om terug te wees by die skool.
“Ek gaan dit mis om in te lê, maar dit is lekker om my vriende weer te sien,” het hy vertel. Die leerder is ook nie té bekommerd oor sy toekoms nie omdat hy glo dat alles sal uitwerk as ‘n mens hard werk.
LEES OOK:
SANBS vereer Concordia vir hul bydrae












