Plaaslike AfriForum-buurtwag hervat bedrywighede
die burgerregteorganisasie werk nou saam met die polisie, gemeenskapspolisiëringsforum (GPF), sekuriteitsmaatskappye en nou die metro-polisie
Die plaaslike AfriForum-buurtwag mag weer hul bedrywighede tydens fase drie van die inperking hervat en is vasberade om te veg vir die veiligheid van die gemeenskap.
Luidens ‘n verklaring van AfriForum mag patrollies voortgaan aangesien regulasie 33 (1), wat dr Nkosazana Dlamini-Zuma, minister van samewerkende regering en tradisionele sake, op 28 Mei 2020 uitgevaardig het, dit duidelik stel dat mense hul woonplekke mag verlaat om spesifieke dienste te lewer, met uitsondering van aktiwiteite soos uiteengesit in tabel twee van dié regulasies.
Buurt- en plaaswagte word nie in dié tabel genoem nie en kan dus weer patrolleer.
“Dit is vir AfriForum uiters belangrik om voort te kan gaan met sigbaarheidspatrollies om die veiligheid van ons gemeenskappe te verseker,” het Stephanus ‘Butch’ Blignault, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Oos-Rand, in ‘n verklaring gesê.
Volgens Helen Bergh, voorsitter van AfriForum se Boksburg-tak, is die plaaslike buurtwag opgewonde om weer op die pad te wees.
“Ons buurtwag het gegroei tydens die inperking en ons het reeds sukses behaal in die kort rukkie wat die buurtwag aktief was. Dit was vir ons uiters frustrerend om op WhatsApp-groepe te sien dat iemand rondom jou hulp nodig het en jy mag nie gaan help nie. ‘n Mens raak later verslaaf daaraan om na tonele toe te gaan,” het die voorsitter verduidelik.
Bergh het vertel die burgerregteorganisasie werk nou saam met die polisie, gemeenskapspolisiëringsforum (GPF), sekuriteitsmaatskappye en nou die metro-polisie.
“Goeie samewerking tussen verskillende strukture gedurende hierdie onsekere tye is uiters belangrik om misdaad hok te slaan. Goeie samewerking en doeltreffende kommunikasie tussen die gemeenskap en privaat veiligheidsinstansies lei tot suksesvolle misdaadbekamping.
“Buurtwagte stel ‘n goeie voorbeeld van die sukses wat bereik kan word as ‘n gemeenskap saamstaan en proaktief optree. Daarom sal ons dit ook verwelkom as ons plaaslike polisiestasies meer statistieke met ons kon deel. Dit sal help as ons ingelig kan wees oor wanneer die meeste kapings byvoorbeeld plaasvind sodat ons patrollies rondom dit kan skeduleer. Nou hou ons groepe dop om dit te prober bepaal.”
Die voorsitter het beklemtoon die plaaslike AfriForum-buurtwag het op 6 Junie aan die burgerregteorganisasie se nasionale versetpatrollie deelgeneem. Die patrollie is in samewerking met verskeie sekuriteitsmaatskappye en gemeenskapslede gehou, wat gehelp het om sigbaarheid in hul onderskeie dorpe te verhoog.
Al die deelnemers het streng voldoen aan die vereiste regulasies en binne die raamwerk van die wet opgetree.AfriForum doen ‘n beroep op gemeenskappe om betrokke te raak en self hul veiligheid te prioritiseer.
Volgens Bergh kan enige lid van die publiek deel word van die buurtwag. Al nodige opleiding en toerusting word voorsien.
Om betrokke te raak by die buurtwag, kontak die plaaslike voorsitter op 072 144 5693 vir meeer inligting.
LEES OOK:
AfriForum launches petition for neighbourhood watches to be essential services during lockdown
LEES OOK:
AfriForum se Boksburg-buurtwag neem deel aan Operasie Masakhane



