Local newsNews

Plaaslike egpaar vier 55ste huweliksherding

Vir die paartjie is hulle kinders en kleinkinders die beste ding wat uit hulle huwelik gekom het

“Ons geloof het ons al die jare bymekaar gehou,” het Santie (75) en Frik Botha (76) verduidelik.

Die besonderse paartjie van Sunward Park het op 26 Junie hul 55ste huweliksherdening gevier. Hulle liefdesvlam het in Standerd Sewe (Graad Nege) op die stoepe van Hoërskool Voortrekker begin brand.

Hulle het toe in 1965 die knoop deurgehaak by die Hervormde Kerk in Champion Straat, Boksburg.

“Frik het my by die skool se debat-aand gevra of ek sy meisie sal wees. Ek onthou nog dat hy my daardie aand verras het met sjokolade wat hy tydens pouse gekoop het,” het Santie vertel.

LEES OOK: 

Paartjie bewys ‘n mens is nooit te oud om te trou nie

Frik vertel dat Santie nog altyd die vrou vir hom was en dat dit ‘n groot seën is dat hulle nog saam is.

“Ons ken mekaar nou al vir 59 jaar, maar dit voel vir my of ons gister getrou het. ‘n Mens kan nie dink dat tyd so vinnig verby kan gaan nie,” het Frik gesê.

Santie was administratiewe beampte en later ‘n tuisteskepper terwyl Frik in die makelaarbedryf was. Vir die paartjie is hulle kinders en kleinkinders die beste ding wat uit hulle huwelik gekom het. Hulle het ook al sewe sakke sout saam opgeëet en moes ‘n paar uitdagings oorkom.

“Ek is ‘n paar jaar gelede met borskanker gediagnoseer en dit was nie maklik nie, maar Frik was baie ondersteunend. Dit het regtig baie vir my beteken dat ek op hom kon staatmaak toe ek deur ?n moeilike tyd gegaan het,” het Santie gesê.

Santie en Frik het op hulle huweliksherding koek gebak vir hulle kleinkinders wat die volgende dag verjaar het. As dit nie vir die inperking was nie, sou hulle die spesiale dag in ‘n restaurant gevier het.

Die paartjie glo vas dat geloof die resep vir ‘n suksesvolle huwelik is.

“Ek ook dink mense gee hopeloos te gou op deesdae. Mens moet mekaar altyd ondersteun en bystaan,” het Santie bygevoeg.

LEES OOK: 

Plaaslike paartjie vier 60 jaar van ’n gelukkige huwelik

 

 

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Boksburg Advertiser in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button