NewsSchools

Onderwyseres groet na ‘n leeftyd in die beroep

Sy beplan om nou meer aandag aan haar kleinkinders te gee

Linda Dippenaar van Hoërskool Dr EG Jansen het na ’n onderwysloopbaan van 38 jaar besluit dis tyd om die rooipen opsy te skuif.
Die 60-jarige het haar loopbaan in 1983 by Hoërskool Voortrekker afgeskop, waar sy vir 23 jaar skoolgehou het. In 2006 het sy haar vlerke gesprei en ’n pos by EG Jansen aanvaar.
Tydens haar merkwaardige loopbaan het sy wiskunde en wetenskap aangebied. Sy was ook betrokke by die afrigting van tennis en atletiek.
Linda het vertel dat sy hartseer is om af te tree na ’n leeftyd in die onderwys.
“Ek gaan my kollegas en die leerders mis, maar ek glo dit is tyd vir die jonger geslag om die leisels oor te neem. Die pandemie het ook ’n rol gespeel in my besluit om af tree,” het sy gesê.
Sy beskou die vyf toekennings wat sy ontvang het vir die beste matriekuitslae in Ekurhuleni-Suid as ’n hoogtepunt in haar loopbaan.
Die passievolle onderwyseres, wat net voor Kerfees verlede jaar positief getoets het vir Covid-19, wil ander aanmoedig om die virus nie ligtelik op te neem nie.
“Ek is nou gesond, maar ek was regtig baie siek. My lyf was seer, ek was moeg en ek het hoofpyne gekry. Mense moet regtig baie versigtig wees,” het sy gewaarsku.
Sy beplan om haar aftrede saam met familie deur te bring en is opgewonde oor die nuwe hoofstuk van haar lewe.
Craig Smith, adjunkhoof van EG Jansen, het Linda namens die skool bedank vir haar jarelange diens.
“Ons wens haar alle sterkte toe vir die toekoms,” het hy gesê.

Lees Ook: EG Jansen matrics confident about last exam paper

Lees Ook: EG Jansen leerders vaar uitstekend in jukskei

   

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Boksburg Advertiser in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button