Ria Kasselman steeds aan die dans na 50 jaar by Inspan Volkspelelaer
Die Volkspele-beweging se oorsprong na Suid-Afrika is te danke aan dr Samuel Henri Pellissier, ’n onderhoof van Hoërskool Boshoff
Ria Kasselman is al vir ongeveer 50 jaar deel van die Inspan Volkspelelaer, en sy is nog glad nie gereed om haar dansskoene weg te bêre nie.
Die laer is op 13 Desember 1965 gestig en die eerste volkspele is in die Hoërskool Dr EG Jansen se saal gehou onder leiding van Frans Nolte.
Ria was vanaf 1984 tot 2015 groepleider van die Inspan Volkspelegroep en is tans ’n erelid van die laer.
“Dit is ’n voorreg om na al die jare nogsteeds volkspele te beoefen. Volkspele gaan gepaard met ons eie Afrikaanse volksliedjes wat so oor die jare ontwikkel het.
“Ons land is die enigste land wat met ons volkspele saam sing terwyl ons dans. Daar is tans in die volkspelebundel, Ons Volkspele Erfenis, 150 spele wat gereeld gedoen word deur van kinders in die laerskool to seniors van ongeveer 80 jaar,” het Ria vertel.
Die 81-jarige het gesê dit is die weeklikse byeenkomste, maratonne, kampe, toere, volkspeleweke vir die jeug en vriendskappe wat sy regoor die land gesluit het wat haar laat aanhou volkspele doen.
Hoogtepunte in haar loopbaan by die laer sluit in die talle medaljes en trofees wat sy gewen het, asook ’n volkspeletoer na Europa toe sy haar land verteenwoordig het tydens ’n internasionale fees in Nederland.
Ria het bygevoeg dat die laer ongelukkig nie in 2020 bymekaar kon kom nie, maar sy hoop hul later in 2021 weer volstoom kan voortgaan.
“My wens is dat die volkspele sal bly voortbestaan, en ons kan dit net aan die nageslag oordra deur deel te neem en dit uit te dra,” het sy vertel.
In Maart 2020 is ’n nuwe bestuur vir Inspan verkies.
Stiaan van der Walt is as laerleier verkies, Johan Marx is die onderleier en Marita van der Walt sekretaresse en tesourier. Hantie Joubert en Mike Prinsloo is addisionele lede.
“Sedert die begin van 2020 het ons van lokaal verander en maak ons gebruik van Witfield Park Aftree-oord se saal. Sedert Covid-19 ons bekruip het, is Inspan Laer onaktief ten einde ons spelers veilig en gesond te hou, aangesien Volkspele ‘n kontak aktiwiteit is.
“Groot uitdagings lê vir ons voor vir 2021. Sodra alles terug is na die ‘nuwe normaal’ en ons lokaal weer beskikbaar is, gaan ons weer lekker swaai, tiekiedraai en saam sing.
“Ons sal die gemeenskap via die Boksburg Advertiser op hoogte hou oor wanneer ons weer bymekaar gaan kom,” het Marita van der Walt gesê.
Vir enige navrae skakel Stiaan of Marita by 079 4737 385 of 074 116 5497 or stiaanvdw10@gmail.com
Lees Ook: Volkspelers geniet samekoms en dans



