Baanbreker Voortrekkers maak harte oop teenoor ouetehuis
Die tehuis is dankbaar vir die skenking
Die Mierespan van die Baanbreker Voortrekker Kommando het op 1 Februarie ’n rolstoel aan die Kosmos-ouetehuis oorhandig.
Volgens Hennie Venter, kommandoleier, is dié skenking deel van die plaaslike Voortrekkers se toegewydheid om diensbaar te wees.
“Dit het alles so twee jaar terug begin toe ons bottelproppies bymekaar gemaak het om later in te handig vir ’n rolstoel. Magriet van der Westhuizen het gesien dat ons met hierdie projek besig is en het besluit om vir ons ’n rolstoel te reël.
“Ons het reeds verlede jaar die stoel ontvang, maar weens die pandemie kon ons nou eers die oorhandiging doen,” het die kommandoleier verduidelik.
Hennie het Magriet bedank vir haar hulp met die organisering van die rolstoel.
“Die kommando is baie dankbaar vir haar ondersteuning,” het hy bygevoeg.
Karen Meyer, ’n maatskaplike werker by Kosmos, het die rolstoel namens die tehuis aanvaar.
“Ek wil graag dankie sê aan die kommando vir die donasie. Dit gaan ons baie help. Ons het altyd rolstoele nodig,” het sy gesê.
Vir enige navrae rondom die Voortrekkers kontak Hennie Venter by 011 896 1559.
Lees Ook: Baanbreker Voortrekkers gaan groen
Lees Ook: Baanbreker Voories vier 35 jaar se bestaan



