Tannie Tossie wil hê niemand moet honger ly op haar 100ste verjaardag
Om haar mooi hart te vier beoog die aftree-oord om Sondag ’n swerm duiwe as simbool vir verdraagsaamheid en vrede los te laat
’n Opgewonde stemming heers by Ons Tuis Riviera aftree-oord waar tannie Tossie Gouws vandeesweek haar 100ste verjaardag op Valentynsdag sal vier.
En sy wil gewis geen geskenke hê nie, maar vra weldoeners om ter viering van haar eeu Sondag ’n behoeftige persoon te voed.
“In my leeftyd het ek ’n wêreldoorlog en uiterse hongersnood beleef, maar ek het nog nooit ’n nag honger gaan slaap nie. Dit is my grootste verjaardagswens vir Suid-Afrika: dat behoeftige kinders en die armes iets het om te eet,” het ’n op-en-wakker tannie Tossie gesê.
Met alles wat sy in haar leeftyd gesien en beleef het, is die veteraan uiteraard ’n boek vol kennis. Sy is immers gebore in ’n tyd toe die Britse koning nog die staatshoof van die Unie van Suid-Afrika was. En sedert die republiekwording in 1961 beleef sy nou hoe die 12de president ons land regeer. Einste President Cyril Ramaphosa het haar reeds voortydig met ’n persoonlike skrywe geluk gewens.
Afgesien van SA se ryk politieke geskiedenis het sy die eerste suksesvolle hartoorplanting in SA beleef, hoe ons buurlande onafhanklik geword het, die ontwikkeling van die CAT-skandeerder en die Kreepy Krauly. Toe sy vier jaar oud was is SA se vlagskip rooiwynkultivar pinotage gekruisteel en is Afrikaans as SA se tweede ampstaal erken.
“Om te dink ek is in die doodsnikke van die Spaanse griep gebore en beleef nou vir ’n tweede keer ’n soortgelyke pandemie,” het sy gesê.
Om haar mooi hart te vier beoog die aftree-oord om Sondag ’n swerm duiwe as simbool vir verdraagsaamheid en vrede los te laat.
Haar geheim vir ’n lang lewe is om altyd na Bo te kyk, nooit te kla nie omdat dit net ’n swak aanwendsel is, in liefde en vrede te leef en nóóit ledig rond te sit nie.
Sr Sonja Stander van Ons Tuis Riviera in Pretoria het gespog: “Ledig was sy beslis nie. Op haar dag was sy ’n vernuftige sakevrou wie se hande vir niks verkeerd gestaan het nie. Haar pragtige, gesmokte naaldwerk is tot vir prinses Anne in die koningshuis gestuur. Sy was ’n bobaas bakster en kok, sy het ook self blomme geplant met ’n planter, sy en haar man het hul eie meubelwinkel besit. Sy was ook streeksbestuurder vir die meubelgroep Russells. Selfs na haar aftrede het Russells wéér vir haar ’n pos aangebied.”
Hoewel dié nooi van Klerksdorp altyd eerste in haar klas gestaan het, kon haar ouers nie bekostig dat sy verder gaan studeer nie.
“Ek het hard gewerk en myself deur selfstudies verryk. Ek het nooit een kliënt se telefoonnommer in ’n boek neergeskryf nie, want ek het dit sommer uit my kop geken. Een van my ses kinders het ook voor die ouderdom van 15 gematrikuleer,” het tannie Tossie vertel.
Tannie Tossie was twee keer getroud en het albei haar eggenote oorleef. Sy het 15 kleinkinders, 23 agterkleinkinders en ses agter-agterkleinkinders.
“My boodskap aan elkeen in Suid-Afrika is wees leergierig, werk hard en wees verdraagsaam,” het sy gesê.
Lees Ook: 100 candles for Joan



