Local newsNews

Toelatingsbeleid ’n aanval op Afrikaanse skole – Solidariteit en AfriForum

Die voorgestelde wysigings bepaal ondermeer dat geen leerder toegang tot ’n skool geweier mag word gegrond uitsluitlik op die skool se taalbeleid nie

Solidariteit en die burgerregteorganisasie AfriForum het onlangs sy kommentaar op die konseptoelatingsbeleid vir openbare skole ingedien.

Volgens Solidariteit bedreig hierdie wysigings die voortbestaan van enkelmedium skole waar slegs een taal as onderrigmedium aangebied word.

Die voorgestelde wysigings is in Februarie in die Staatskoerant gepubliseer en bepaal ondermeer dat geen leerder toegang tot ’n skool geweier mag word gegrond uitsluitlik op die skool se taalbeleid nie.

Wysigings wat Solidariteit in sy kommentaar aanpak, is die miskenning van leerders se reg om onderrig in die taal van hul keuse te ontvang deurdat taal nie meer as toelatingsvereiste deur skole in ag geneem mag word nie.

Verdere ondersteunende wysigings wat ook deur Solidariteit gekritiseer word, is veral die weglating van voldoende dokumentasie met die aansoek om toelating, wat daartoe sal bydra dat leerders in werklikheid aangemoedig word om by skole aansoek te doen waar hulle nie die onderrigtaal verstaan nie.

“Dit wil voorkom of die doel van hierdie wysigings is om dit vir skole wat enkelmedium onderrig aanbied, soos Afrikaanse skole, moeiliker te maak om voorkeur te gee aan leerders wat kies om in hul moedertaal onderrig te kan ontvang,” het Johnell van Vollenhoven, woordvoerder van Solidariteit, in ’n verklaring gesê.

“Op hierdie wyse kan die staat die taaldemografie van die skool kaap en hom dan dwing om sy taalbeleid aan te pas. Hy neem dus net die leerder vir wie hy nog nie ten opsigte van moedertaalonderrig gesorg het nie in ag, maar steur hom nie aan die leerder wat hy nou van sy grondwetlike reg ontneem nie.”

Solidariteit voer verder aan dat die staat deur hierdie wysigings aan die toelatingsbeleid poog om sy greep op veral Afrikaanse skole te versterk deur die verantwoordelikheid van die beheerliggaam te verminder en sy eie ideologie deur middel van beleide af te dwing.

Solidariteit het hom ook sterk daarteen uitgespreek dat skole voortaan hul toelatingsbeleid aan die Departement van Basiese Onderwys moet voorhou vir goedkeuring.

“Om Afrikaanse skole te teiken is nie die antwoord nie. Die rol van die regering is nie om skole te beheer en sy greep op skole te versterk nie; sy rol is eerder om meer skole te bou en so sy kapasiteit om kwaliteit-onderrig beskikbaar te stel, te vergroot.

“Die administratiewe las van skole en die departement word swaarder terwyl die kapasiteit nie uitgebrei word nie. Die regering moet oor sy voorgestelde beleid gaan herbesin en eerder met werkbare oplossings vorendag kom waar hy kwaliteit-onderrig aan alle leerders kan verseker,” het Van Vollenhoven bygevoeg.

Volgens Natasha Venter, AfriForum se bestuurder vir onderwyssake, blyk gedeeltes van hierdie beleid ’n doelbewuste aanval op enkelmedium Afrikaanse skole te wees.

“Leerders het die grondwetlike reg om in die taal van hul keuse onderrig te ontvang en dit is die Departement van Basies Onderwys se plig om seker te maak dat daar genoeg skole is om toe te sien dat daar uitvoering gegee word aan hierdie reg.

“Om bloot enkelmedium Afrikaanse skole wat reeds genoeg Afrikaanssprekende kinders bedien te dwing om kinders wat nie die taal magtig is nie te aanvaar, is dus nie die oplossing nie.

“Die geskiedenis bewys dat waar Engels op Afrikaanse skole afgedwing word, dit uiteindelik tot gevolg het dat hierdie skole totaal verengels.”

Die sentralisering van mag oor skoleplasings in die departement het volgens Venter reeds bewese nadelige gevolge vir skole ingehou. (Ouers se frustrasie met die aanlyn registrasieproses in verskeie provinsies is ’n sprekende bewys hiervan.)

Hierdie beleid het ten doel om selfs meer mag aan die departement te gee.

Lees Ook: Solidariteit ten gunste van ‘n veilige en gesonde terugkeer werk toe

Lees Ook: AfriForum Boksburg and Boksburg North Sector Four CPF collaborate to assist community

   

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Boksburg Advertiser in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button